Wat is breinvrot?

[Kobus Strydom]

Breinvrot is ‘n term wat deesdae algemeen gebruik word en daarom is dit belangrik dat meer mense oor die geheime taal van die jeug ingelig moet word.

Breinvrot is die letterlike vertaling van brainrot. Brainrot is die Oxford woord van die jaar in 2024 en is ’n internetkultuur met sy eie taalgebruik. Breinvrot het ’n konnotasie met lae gehalte media en dit is waar die term begin het.

Dis belangrik om in ag te neem dat die meeste van hierdie terme sleng is. Dit is informele taal wat hoofsaaklik deur skoolgaande kinders gebruik word en wat uit Engelse sosialemediaplasings ontstaan het. Hier is ’n paar breinvrotwoorde met hul betekenisse. Daar is sekerlik al ’n hele paar in DF se gange gehoor.
cringe – gebruik om te wys iets maak jou skaam (byvoeglike naamwoord) voorbeeld: Die boodskap was baie cringe.
goofy – gebruik om te wys iets of iemand is of lyk snaaks (byvoeglike naamwoord) voorbeeld: Die goofy foon werk nie.
cap – ’n sinoniem vir jok (abstrakte selfstandige naamwoord) voorbeeld: Cap! Dit het nie gebeur nie.
Mewing – verwys daarna om ’n snaakse gesigsuitdrukking te maak (hoofwerkwoord) voorbeeld: Vir Anike is mewing snaaks.
Rizz – verwys daarna om charismaties te wees
Dit was die Oxford Press woord van die jaar in 2023.
(byvoeglike naamwoord) voorbeeld: Piet het baie rizz.
Skibidi – ’n term met geen ware betekenis nie, maar dit word gebruik vir ’n komiese effek
(byvoeglike naamwoord) voorbeeld: Ek het die skibidi ou verlepte boks gekry.
Zop – verwys daarna om te steel
Dit is van Nederlandse afkoms. (hoofwerkwoord) voorbeeld: Ek het ’n klip gaan zop by die strand.
67 – ’n internetgrappie met geen betekenis nie
Die afkoms daarvan kom uit die liedjie Doot Doot deur Skrilla, waarin hy aanhoudend “67” sê. ’n Uittreksel van die liedjie is gedeel op sosiale media en dit het dus ’n populêre term geword. Daar het ook ’n handgebaar saam met die term ontwikkel.

Breinvrot word reeds in die politiek gesien. ’n Voorbeeld hiervan is waar die Australiese parlementslid, Fatima Payman, haar hele toespraak in breinvrotterms aangebied het. Haar toespraak is by hierdie skakel beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=BK0Lv6bWgI4

Breinvrot is ’n algemene verskynsel en is besig om die nuwe normaal te word – daarom moet ons dit leer. Niemand weet wat die toekoms inhou nie, maar dit is seker dat daar altyd nuwe sleng sal vorm wat jou gaan laat wonder wat dit beteken.

[Nota van onderwyser: Breinvrot is Kobus se eie skepping. Daar bestaan nie tans ‘n gestandaardiseerde Afrikaanse woord vir “brain rot” (wat gebruik word ten opsigte van die gebruik van ligsinnige inhoud, veral aanlyn) nie. ‘n Interessante feit is dat dié term reeds in 1854 deur die skrywer Henry David Thoreau gebruik is en weer vanaf 2007 ten opsigte van aanlyn gedrag. Bron: Viva-taaldienste]

Kobus Strydom

Kobus se gunstelingvakke is natuurwetenskap en Afrikaans. Hy neem aan debat, skaak en hokkie deel. Hy versamel ook munte.