[Caro Thirion]
Elke jaar kry die graad 10-leerders die geleentheid om ‘n paar dae buite die klaskamer deur te bring – nie vir vakansie nie, maar om vir hul toekoms voor te berei. Hierdie werkskadutaak is ‘n belangrike deel van hulle Lewensoriënteringkurrikulum en gee vir hulle ‘n kans om self te sien hoe dit in ‘n regte werksomgewing lyk.
Wat is werskadu?
Werkskadu is wanneer ‘n leerder vir een of meer dae ‘n professionele persoon by hul werksplek volg en dophou wat hulle daar doen. Die doel is om meer oor die spesifieke loopbaan of beroep te leer. Dit sluit die werksomstandighede, verantwoordelikhede en tipe vaardighede wat vir die beroep benodig word, in.
‘n Dag by die werksplek
Tydens die werkskadu moet die leerders die werksomgewing waarneem, vrae vra en aktief deelneem waar hulle kan. Baie leerders kry die kans om verskeie take te verrig of waar te neem, van vergaderings bywoon tot koffie maak.
Leerervaring
Dit is die leerders se eie verantwoordelikheid om met die werknemers van die maatskappy van hul keuse, te reël sodat hulle daar kan werkskadu. ‘n Paar voorbeelde van gewilde loopbaanrigtings vir werkskadu is medies, regte, onderwys, rekenaarwetenskap, entrepreneurskap en ontwerp. Hulle maak aantekeninge, stel vrae op en na afloop van die ervaring moet hulle ‘n verslag, waarin hulle hul ervaring en waarnemings beskryf, inlewer.
Waarom is dit so belangrik?
In graad 10 begin die leerders belangrike keuses oor hulle toekoms maak en begin meer ernstig oor hul moontlike loopbane dink. Werkskadu inspireer baie leerders om harder vir hulle gekose beroep te werk, terwyl ander ontdek dat hulle droomberoep glad nie is wat hulle verwag het nie.
Werkskadu is nie net ‘n skooltaak nie – dit is ‘n kans om te leer, te droom en besluite te neem oor die toekoms. Vir graad 10-leerders is dit ‘n waardevolle stap in hulle reis na volwassenheid. As jy ‘n graad 10-leeder is: Kies ‘n plek wat jou regtig interesseer, wees nuuskierig en vra baie vrae. Jy weet nooit – dalk begin jou toekoms daar!
Caro Thirion
Caro spandeer die meeste van haar tyd aan kultuur. Sy is deel van die koor en dans as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Sy geniet dit om na musiek te luister, maar as jy vir haar vra wat haar gunstelingliedjie is, sal sy nie slegs een kan kies nie.