Word eksamenstres se baas

[Caro Thirion]

Die eksamen is om die draai en kom ons wees eerlik: Almal se harte het gaan staan toe die skool al klaar die eksamenrooster in die vakansie uitgestuur het. Die stres is besig om op te bou en niemand weet hoe om daarvan ontslae te raak nie. Gelukkig vir jou is daar baie wenke beskikbaar.

Begin die dag reg
Moenie jou dag begin deur jou tyd op sosiale media te spandeer nie. Dit is ʼn gewoonte vir die meeste mense, veral tieners. Dit is wel nie ‘n slim idee om jou dag só te begin nie.

Die kennisgewings van sosiale media sit jou brein in ʼn toestand van dringendheid, wat veroorsaak dat jy die res van die dag gespanne kan wees en jou produktiwiteit sal sodoende beïnvloed word. Gebruik jou selfoon dus eers een uur nadat jy wakker geword het.

Breinkos
Gesonde kos kan jou welstand en produktiwiteit verbeter. ʼn Gesonde ontbyt sal verseker dat jy jou volgende toets baie lekkerder skryf. ʼn Ontbyt vol bessies, vrugte en proteïen is die beste opsie, aangesien dit jou aandag en geheue drasties verbeter.

Oefening
Alledaagse fisiese aktiwiteite sal jou welstand positief beïnvloed. Jy hoef nie ʼn hele marathon te gaan hardloop of kilometers ver te gaan swem nie. Net 30 minute se oefening is al wat jy nodig het. Dit is ʼn goeie studiebreek, want oefening help jou om jou werk of groot massas inligting te onthou.

Doen iets wat jy geniet, anders gaan die oefening nie vir jou lekker wees nie. Dink aan stap, swem, dans, hardloop of fietsry. Die oefeninge kom met baie voordele. Fisiese oefening verbeter jou gesondheid, welstand en energie.

Stokperdjies
Dit is nooit ʼn slegte idee om ʼn breek te neem van al die leerwerk nie; jy mag asemhaal vir ʼn paar oomblikke.

Vat ʼn paar minute om iets te doen wat jy regtig geniet en wat jou rustig sal maak. Lees jou boek, bak jou gunstelingkoekies of skryf al jou stres uit op ʼn stuk papier.
Al vat jy net die hond vir ʼn stappie, dit sal jou dadelik beter laat voel. Dit is net so belangrik om te rus soos wat dit is om te werk.

Lag!
Dit is geen grap dat om te giggel jou stres vinnig sal laat verdwyn nie. Deur te lag, ontspan jy jou hele lyf, wat veroorsaak dat die onnodige eksamenstres ook verminder. As jy lag, laat jy ook endorfiene vry, wat jou lyf se natuurlike gelukkigheidshormoon is.

So, volgende keer as jy stres, vra vir jou pa om vir jou ʼn paar dad-jokes te vertel of kyk na jou gunstelingkomedie.

Eksamenstres kan erg wees, maar moenie dat dit jou hele lewe oorneem nie. Dit is moeilik om jou lewe te balanseer tussen hard werk en ontspan, maar dit is nie onmoontlik nie.

Caro Thirion

Caro spandeer die meeste van haar tyd aan kultuur. Sy is deel van die koor en dans as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Sy geniet dit om na musiek te luister, maar as jy vir haar vra wat haar gunstelingliedjie is, sal sy nie slegs een kan kies nie.