WP se jongste skeidsregter: Wie is Renier Janse van Rensburg?

[Jurgen Steyn]

Al is Renier maar net 14 jaar oud, is hy al klaar ‘n gekwalifiseerde skeidsregter vir die WP en een van die jongstes in die wêreld. Renier het in Oktober verlede jaar Krieket Suid-Afrika se vlak een-skeidsregtereksamen voltooi en hy geniet sy nuwe kwalifikasie terdeë.

Renier sê dat sy besluit om ‘n skeidsregter te word op die ingewing van die oomblik geneem is. Hy was besig op sosiale media en het die vorm om ‘n skeidsregter te word, gesien. Nadat hy ingeskryf het, het hy blykbaar elke aand vir omtrent 30 minute die reëlboek bestudeer. Renier was onlangs by Hoër Jongenskool Paarl se jaarlikse krieketfees vir o. 15- en o. 19-spanne ‘n skeidsregter en het glad nie sleg gevaar nie. 

Renier is oorspronklik van Helderkruin in Roodepoort, waar een van sy onderwysers hom gemotiveer het om krieket te begin speel. Renier het in 2021 na Bellville verhuis en het in 2022 by Laerskool Kenridge aangesluit in graad ses. In 2024 het hy DF toe gekom as ‘n graad 8-leerder en hy het vinnig ‘n naam vir homself gemaak by sy hokkie- en krieketspanne. Hy is nou ingedeel vir die o. 16A-span se hokkie- en krieketoefengroepe.

Al is Renier gekwalifiseerd om ‘n skeidsregter te wees, sê hy dat dit nie sy finale doelwit is nie en dat hy steeds graag die sport self sal wil speel. En dalk die beste deel van hierdie storie: Renier gaan binnekort sy eie plek in die Guinness Book of World Records kry as die jongste skeidsregter in die wêreld.

Jurgen Steyn

Jurgen is ‘n passievolle kok en permanent geboei deur sy gunstelingaksieboeke. As hy nie binnenshuis besig is nie, speel hy gholf of ry hy padfiets. Jurgen se gunstelingskoolvakke is Engels en wiskunde.