Die redigeringsproses: Hoe redigeer jy vir 780 minute?

Jana Burger en Leah Coetze

Leerders, ouers en onderwysers lees elke kwartaal die nuwe uitgawe van die Herout, maar min weet regtig wat agter die skerms gebeur. Ons vertel graag meer oor die redigeringsproses, sowel as ervarings wat ons daagliks opdoen.

Die redigeringsproses gebeur gewoonlik in fases. Eerstens sal ons al die artikels se formate verander sodat alles dieselfde kan lyk op die webtuiste en daarna sal ons elke artikel deurlees om te bepaal watter langer gaan neem en watter vinnig sal wees sodat ons goeie tydsbestuur kan handhaaf tussen redigering en skool, sowel as ander buitemuurse aktiwiteite.

As daar een wenk is wat ons vir aspirerende redakteurs wil gee, is dit om ‘n groot HAT byderhand te hou. Daar is onbeperkte toepassings wat ons ook gebruik om hierdie proses te vergemaklik. Hierdie bronne word jou beste pel, want soms kan ons ook nie spel nie.

Redigering is soos legkaart bou. Jy moet eers al die elemente identifiseer voordat jy kan begin. Wanneer ons ‘n artikel redigeer, kyk ons na spelling, sinskonstruksie en enige ander taal- en grammatikafoute. Nadat dit afgehandel is, kyk ons na die inhoud. ‘n Goeie inleiding en slot vorm die kern van ‘n artikel. Dit is belangrik om te verseker dat die inhoud al die korrekte feite bevat en steeds relevant bly. Dit is wanneer hierdie legkaart bietjie ingewikkeld raak en brongebasseerde feite baie belangrik vir ’n artikel is. 

Wanneer ons ’n groot verskeidenheid artikels redigeer, leer ons die joernaliste, met wie ons nog nooit regtig gepraat het nie, baie goed ken. Ons word selfs ‘n lopende Google met al die feite wat ons leer. Ons het nooit geweet dat die geskiedenis van Nuwejaarsvoornemens so interessant is en dat dit honderde jare terug sy oorsprong het nie. Ons weet ook nou meer oor al die vreemde en unieke gebruike van sampioene. Ons is selfs opgewonde oor die volgende bloedskenk.

Die enigste nadeel waaraan ons kan dink, is tydsbestuur. Jou vrye tyd tydens die naweek en na skool het ewe skielik Herout-tyd geword. Tydsbestuur is soms ook ’n uitdaging met ons joernaliste, aangesien almal se skedules propvol is. Met enige uitdaging is daar ‘n leerkurwe. Ons leer elke dag ‘n bietjie meer van ons taal en bietjie meer oor hoe om die woord “was” reg te gebruik.

Selfs met die slegte aspekte en stres wat dikwels gepaard gaan met redakteur-wees, is dit nog steeds ‘n fantastiese ondervinding en een van ons gunstelingaktiwiteite by die skool.