[Etienne van der Merwe]
Suid Afrika is ‘n land ryk aan hulpbronne, verskillende kulture en geskiedenis. ‘n Deel van hierdie geskiedenis sluit krieket in.
Krieket, soos wat jy sal kan raai, is ingevoer deur die Britse Ryk. Die eerste geskrewe bewyse van krieket in Suid-Afrika kom voor in 1808. Dit was ‘n geskiedkundige gebeurtenis waar Britse offisiere van die artillerie teen offisiere van die kolonie gespeel het.
Die eerste formele klub, Port Elizabeth Cricket Club, is in 1843 gestig by St George’s Park. Die gronde word tot vandag gebruik. Die eerste kompetisie het in 1876 plaasgevind en is die Champions Bat genoem waar verskillende dorpe teen mekaar gekompeteer het.
Die oudste stadions, Nuweland en Old Wanderers in Johannesburg, is in 1888 en 1889 gebou. In Maart 1889 het Engeland twee toetse teen ons gespeel, wat ongelukkig verloor is. Dit was werklik ons ontgroening tot eersteklas-krieket. So het dit gekom dat ons die wêreld se derde toetsspelende land geword het.
Krieket is so gevestig in ons land soos braai en beurtkrag. Ons het talle prestasies bereik en ‘n sterk reputasie gevestig. Ons het die eerste span in die geskiedenis geword wat in November 2007 die eerste plek behou het in al drie formate van die spel.
Ons spelers is wêreldklas, met name soos Graeme Smith, die Pollocks, Vernon Philander, Kevin Pietersen (wat vir Engeland gaan speel het en later bekend gestaan het as een van die beste kolwers in die geskiedenis), Dale Steyn, Jacques Kallis, Hashim Amla, Allan Donald, Imran Tahir, Morné Morkel, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada, Anrich Nortje en vele ander.
Baie spelers het al die land verlaat op soek na beter geleenthede. ‘n Voorbeeld hiervan is die Kolpak-kontrak, waar ons spelers dan in Engeland gaan speel. Nog voorbeelde is al die franchise- of country krieket waarin spelers kan deelneem teen baie goeie betaling. ‘n Voorbeeld is die IPL (Indiese Premierliga). Dit is veral nou relevant met Sam Curran wat die jaar die duurste kontrak in IPL-geskiedenis gekry het met ‘n bedrag van 2,25 miljoen dollar.
Ons huidige top 6-kolwers is die sterkste top 6 in enige beperkte boulbeurtspan in die wêreld, met ‘n wêreldklas snelboulaanval. Verder het ons ook die beste wenpersentasie van enige span, insluitend die krieketreus, Indië.
Dit is egter ook belangrik om te onthou dat Apartheid ‘n verwoestende effek op krieket gehad het. Dit was ‘n tydperk van 21 jaar waar ons deur die wêreld geboikot is. In dié era was die talente en vasberadenheid van baie spelers getoets is, soos dié van Barry Richards en die Pollock-broers, onder andere. Gelukkig vir die spelers het lande soos Engeland en Australië tog geheime toere georganiseer om teen ons te speel.
Krieket is ‘n belangrike politieke instrument. Dit kan beide versoen en uitsluit. Krieket is die sport wat die tweede meeste gekyk word in die wêreld. Dit kan dus as ‘n brug tussen lande dien omdat dit ‘n gemeenskaplike faktor is. Die vyandigheid tussen Indië en Pakistan is intens wat krieket betref en krieket is ‘n voorbeeld van hoe versoening tussen lande kan plaasvind.
Krieket se toekoms is so vas soos Arabiese sandduine. Jare gelede was toetse die belangrikste vorm van krieket. T20’s (eendagwedstryde wat uit 20 boulbeure bestaan) is maar ‘n onlangse gebeurtenis.
Toetskrieket word al vir eeue lank gespeel. Dit is veronderstel om die grootste toets van vermoëns en talent van ‘n speler te wees. Dit loop egter dood. Toetse is vyf dae lank, duur om te speel en die hoeveelheid kykers is minder; gevolglik word dit al hoe minder gespeel.
ODI’s of vyftigbeurt-krieket is die ongewenste middelkind van die sport. Die eerste tien boulbeurte of die power play is interessant omdat daar veldwerkerplasingsbeperkinge is. Dit veroorsaak dan dat die middelste twintig na dertig boulbeurte stadig voel omdat jy nou net uit die power play kom en wag vir die doodsbeurte (laaste tien), waar die doel net is om die bal so hard en ver as moontlik te slaan.
Dit bring my by T20’s of twintig 20’s wat neerkom op 120 balle. Dit is die gewildste formaat om ‘n baie eenvoudige rede: Dis vrek opwindend. Daar is geen tyd vir stadig kolf nie. Dit is konstante, opwindende aksie. ‘n Interessante verskynsel aan die begin van T20’s is dat mense gedog het dat draaibalboulers sou verdwyn. Die teorie was dat aangesien dit makliker is om ‘n draaibal te slaan in ‘n formaat waar elke bal geslaan moet word, sal hulle dit nie baie regkry nie. In die werliklikheid kon hulle nie meer verkeerd wees nie. Stadige boulers is vandag van die waardevolste boulers wat jy kry, byvoorbeeld Rashid Khan wat gereken word as een van die beste T20-boulers in die wêreld.
Daar het ook iets gebeur wat niemand verwag het nie: die aanwend van die verrassingsboulers. Dit is ‘n draaibalbouler wat die bal in alle rigtings kan laat beweeg. Verdere veranderinge sluit die impakspelerreël in waar jy een speler kan uitruil vir ‘n ander gedurende die spel. Die SA20 is ook ingestel waar jy eers jou span hoef te verklaar na die kies van wie eerste kolf- of veldwerk doen. Daar is tonne ligas regoor die wêreld waarin die formaat ten toon gestel is en mense is mal daaroor. Die bekendste van die ligas, is sekerlik die IPL (Indian Premier League).
Dit is dan juis ironies dat die ligas wat sulke groot geld maak, niks goeds voorspel vir die toekoms van krieket nie. Daar is 365 dae in ‘n jaar en almal kan nie afgestaan word aan krieket nie. Skedules word oorlaai, kykers word moeg van krieket kyk en die spelers self brand uit. David Miller moes onlangs ‘n ses maande lange vakansie neem.
Om so baie krieket te speel, is onvolhoubaar. Daar is elke vier jaar drie Wêreldbekers en 13 verskillende ligas. Die vraag is: Hoe kan jy opgewonde bly oor elke toernooi?
Boonop maak die oorvol skedule dit ‘n nagmerrie vir lande om teen mekaar te speel. Spelers speel eerder in ligas waar hulle eenvoudig meer betaal word. Lande soos Indië, Australië en Engeland kan bekostig om hulle spelers terug te koop. Lande soos Suid-Afrika en Wes-Indië spandeer egter geld en tyd om ‘n speler te ontwikkel, net om hom aan ‘n bekende krieket-franchise af te staan.
Dit is nodig vir lande om internasionaal te speel. Dit vorm sterk nasietrots, soos gesien word in die vroue se T20-wêreldbeker toe 12,75 000 mense opgedaag het vir die finaal. Dit is die meeste toeskouers wat al ooit ‘n vroue-krieketwedstryd bygewoon het! Wanneer so iets plaasvind, wil alle Suid-Afrikaners saamstaan en ondersteun.
Krieket is in ons bloed. Dit is vir die gemiddelde familie ‘n gunstelingaktiwiteit om te geniet rondom ‘n gesellige braaivleisvuur. Maak nie saak of jy jubel of huil oor die Proteas se jongste spel nie.
Etienne van der Merwe
Hierdie skrywer is soos ‘n menslike Swiss Army-mes: Hy bons tussen programmering, lees, krieket, wiskunde, ekonomie en debat asof dit geen probleem is nie.