Wees beter – die slagspreuk van ons generasie

Lisemarie van Dyk

Almal maak foute. Ja, almal. Partykeer sien mense ons foute en partykeer nie. Soms wanneer jy ‘n fout maak, het een van jou vriende dalk al grappig gereageer met die slagspreuk wees beterof “skill issue”.

Dit klink dikwels na ‘n grap, maar op ‘n moeilike dag kan dit soos ‘n donker wolk om jou bly hang. Jy begin wonder: Hoekom het ek daardie fout gemaak? Ek moet beter wees. Hierdie gedagtes gaan maklik oor na die idee dat jy nie goed genoeg is nie – ‘n gevoel wat ons almal al beleef het, ongeag hoe sterk ons selfbeeld is.

En weet jy wat? Dit is die lewe. Almal val en die meeste van ons staan weer op. Meeste. Sommiges. Nie almal nie …

Volgens verskeie berigte en studies is die mense wat maklik weer opstaan, besig om drasties te verminder, veral onder ons: die jeug.

Volgens heartofleadership.org glo 7 uit 10 tieners dat hul op een of ander manier nie goed genoeg is nie. Dit kan byvoorbeeld hul voorkoms, prestasies op skool of verhoudings met familie en vriende insluit.

Dit was nie altyd so nie. In die “ou dae” was daar nie hierdie gevoel van massaminderwaardigheid nie. Almal het hul gang gegaan en hul unieke pad geloop. Ja, daar was mense wat gesukkel het, maar die depressie, angs en selfmoordsyfers was aansienlik laer. Mense het beter geestesgesondheid gehandhaaf omdat hulle nie Instagram gehad het wat elke dag wys dat daar soveel mense is wat beter is as hulle, lekkerder goed doen en meer het as hulle nie.

Vandag vergelyk ons onsself met almal rondom ons, veral op sosiale media. “Kyk, Mia het vandag 10 kilometer gaan draf. Ek wens ek kon dit doen” of “Kyk hoe lekker was Andre se partytjie gisteraand. Ek wens ek was ook genooi.”

Ons generasie meet onsself gedurig teen ‘n hoër standaard. Ons is gewoond aan tegnologie en dat alles instant en perfek is. Later verwag ons van mense om ook instant en perfek te wees – insluitend onsself.

So ontstaan die gesegde dus: Wees beter. Ons verwag gedurig beter van onsself en ander. Om perfek te wees – bewustelik of onbewustelik.

Die konstante bombardering van informasie op sosiale media beïnvloed ons selfbeeld. ‘n Mens kan maklik later begin glo dat jou waarde lê in hoe mooi jy is, hoe goed jou wiskundepunt is of hoe vinnig jy om ‘n baan kan hardloop.

Gelukkig is dit glad nie waar dat hierdie dinge jou waarde bepaal nie. Iemand se waarde lê nie in oppervlakkige prestasies of uiterlike dinge nie, maar eerder in die unieke kwaliteite, karakter en invloed wat hulle op ander het. Jou waarde kom na vore in die manier waarop jy ander behandel, jou empatie, jou vermoë om deur uitdagings te werk en die positiewe impak wat jy op die mense rondom jou het. Hierdie innerlike eienskappe is blywend en nie afhanklik van tydelike faktore soos voorkoms of akademiese- en sportsuksesse nie.

Indien jy wil probeer om jou waarde te ontdek, probeer gerus die volgende:

Wees dankbaar: Fokus op wat jy het, nie wat jy benodig nie. Ek is dankbaar dat ek kan skaak speel, is gesonder as om te dink: Ek moet beter wees as daardie ou in graad 9.

Omring jouself met positiewe mense: Kies vriende wat jou opbou en jou waardeer vir wie jy is. En wees self so ‘n vriend vir ander.

Volgende keer as jy ‘n fout maak en iemand sê: “Wees beter” onthou: Jy is goed genoeg. Jy hoef nie perfek te wees nie – jy is waardevol, ongeag enige fout. Dit is nooit te laat om jouself en ander op te bou nie.

Lisemarie van Dyk

Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.