[Nienke de Vaal]
Die Herout het die voorreg gehad om vir hierdie kwartaal se uitgawe met meneer Conradie te gesels oor die pad wat hy geloop het as DF se skoolhoof.
Hoekom skoolhoof by DF?
Hier is die storie. Ek is gebore in die Kaap, maar ek het grootgeword in Gauteng. Ek het by die hoërskool waar ek skoolgegaan het, aansoek gedoen vir ’n onderwysbeurs. Ek het dit gekry by die destydse Transvaalse Onderwysdepartement, en het toe in my finale jaar by my eie skool aansoek gedoen vir werk. Ek het die pos gekry, maar ons moes eers weermag toe gaan in daardie jare.
Ek het so in die middel van my tweede jaar, in Julie, by die skool aangekom. Ek het al die wiskunde-kinders wat nie so goed gedoen het in graad tien, elf en twaalf nie, gekry. Ek het hulle vir die laaste ses maande gehad en daarna het ek skeinat gegee. Ek het ’n bietjie verveeld geraak. Toe kom die wetenskapdepartement se pos oop na twee en ’n half jaar en ek kry dit.
Op 29 jeuk ek weer. Ek skiet toe vir drie adjunkhoofposte en kry van die drie skole by die beste skool, Menlopark, die pos. Ek was 21 jaar by Menlopark. Net soos by DF, word jy deel van die familie daar. Ek het by myself gedink dat daar nie ’n manier is dat ek ’n hoof in Pretoria by ’n ander skool sal wil wees nie.
Die kinders het begin grootword en ek en my vrou het toe besluit om uit Gauteng te beweeg en die Wes-Kaap bietjie op te soek.
My vrou het my nog eendag gevra: “Maar gaan jy nie aansoek doen vir poste daar nie.” Toe gaan kyk ek in die vakaturelys en DF is daar.
‘n Interessante feit ִ– In 2000 terwyl ek in Menlopark was, het die hoof, dr. Van Der Merwe, my saam met hom genooi om skole in die Kaap te kom besoek. Ons het onder andere ook DF besoek.
So, toe het ek al by DF rondgeloop.
Wanneer het Meneer by DF aangekom?
1 September 2016
Wat was van die grootste hindernisse van skoolgee waardeur Meneer is?
Kyk, ons het die droogte gehad in 2017 toe ek hier begin het. Toe was dit watertenks en al die tipe van dinge. Toe slaan Covid-19 ons. Toe is dit die kragprobleme. Toe is dit die skool se naam. Boonop is daar die WKOD en dinge wat verander. Dis waar jy nou aanpasbaar moet wees.
Daardie moeiliker dele het ’n ou so bietjie uitgedaag omdat ek die tipe persoon is wat hou daarvan om te weet presies wat aangaan. Covid-19 was vir my ’n nagmerrie totdat ek besef het dat daar dinge is waaroor jy nie beheer het nie. Ek dink dis ’n les wat ‘n mens moet leer – beheer net wat jy kan beheer.
Enige ander waardevolle lesse?
Wat klaar is is klaar. Wanneer jy iets aanpak, doen dit, kry dit agter die rug en gaan aan.
Daar is ook nie net een manier en dis die enigste regte manier nie. Daar is mense wat dinge op totaal ander maniere doen en tog werk dit vir hulle. Dis ook deel van DF. Dee-Effers is meer oop en geneig om nuwe idees en nuwe dinge uit te toets. Ek moes leer om myself oop te stel, want ek is van nature iemand wat daardie tipe beheer wou gehad het, maar partykeer gebeur dinge net.
Ek praat gedurig van Gauteng-tyd en Kaap-tyd. In Gauteng gebeur alles vinnig, maar in die Kaap is dit rustiger en die werk word steeds gedoen. Ek het dus besef dat ‘n mens dinge ook rustiger kan doen.
As Meneer nou terugkyk na Meneer se tyd by DF, waaroor is Meneer die trotste?
As ek nou terug kyk na die nege jaar … Om te sien hoe die fasiliteite verander het, is noemenswaardig. Dit is die sonpanele, batterye, nuwe astro, die rugbyveld is omvorm, daar is nuwe tydelike klaskamers gebou, die tuine, amfiteater en nuwe hekke. Hieroor voel ek baie trots.
Dan is dit net om deel te wees van DF se gees. Dit is net ongelooflik. As ek byvoorbeeld in die gang loop, groet soveel mense my. Dis daardie spontaneïteit. Kyk na die opedag. As die mense hier inkom, is dit net fantasties. Dit is wat ek voel die skool moet wees. Ons moet die lewe kan geniet en vier, want ons tydjie in die skool is maar so kort.
Natuurlik is daar die prestasies: akademie, kultureel en sport, maar vir my is dit om te sien dat die skool ’n lewende organisme is. Dit borrel en leef.
Die omgee en ondersteuning vir mekaar is iets wat uitstaaan. Wanneer ek klasbesoeke doen, is dit spesiaal om te sien hoe leerders luister na iemand anders wat mondeling praat en vir hulle die kans gee. In die saal ondersteun leerders uit verskeie verskillende aktiwiteite mekaar. Of dit koor, skaak, netbal, hokkie, gimnastiek of bergfiets is, daar word erkenning gegee vir kinders en hulle talente.
Skooltradisies by DF wat Meneer die meeste gaan mis?
MTBS. Vir my is dit ’n baie unieke tradisie by DF om te koester. As ek sien hoe die ses- tot sewehonderd kinders saam met die dirigente en tromspelers werk. Ek was verstom.
Dit is ’n lekker ding om te kan sê dat DF 2017 se flashes en geesbeker gewen het. Ek dink daar is nog ’n foto êrens van waar ek die beker saam vashou. Dit was net onbeskryflik, want ek het nog nooit so iets in my lewe beleef nie.
’n Tradisie wat begin het terwyl ek ook hier is en vir my baie oulik en simbolies is, is die lui van die klok. Dit is nou die sesde jaar. Jy meld aan by die skool as ’n graad agt-leerder met jou baadjieplegtigheid en dan met die uitstapdag lui jy dit weer as ’n matriekleerder. Dit vat dit so saam om te sê: “Hier is ek nou om die vyf jaar aan te vat“ en “Ek is nou reg vir die wêreld daar buite.”
Ander tradisies is die ARK-weke, Aksie Omgee, die broodjieprojek. Dit alles is lieflike tradisies wat weer aansluit by die omgee van DF.
Waarna sien Meneer die meeste uit? Enige planne vorentoe?
Ek sien regtig daarna uit om saam met my vrou bietjie die rustigheid en natuur te geniet. Ons gaan nou in Springerbaai aftree. Ek gaan vir my ’n fiets en ’n kajak koop. Ek gaan ook beslis by ’n rolbalklub aansluit.
Dan gaan ek my naam opgee by die departement om eindeksamens te monitor.
Jy is altyd tydens die skooljaar vasgevang in vakansies. Jy kan net sekere tye weggaan. Jy kan nie in skooltyd verlof vat nie. Ek sal byvoorbeeld wat wou gee om net die kar te vat en na Augrabies-watervalle toe te ry. Of na die Kgalagadi in die winter, want almal bespreek dit lank voor die tyd, maar nou kan ek dit ook doen. Of die Weskusblommetjies is reg! Klim in jou kar en ry, want niks gaan jou keer nie. Ons gaan baie van daardie tipe dinge doen. Dit is ‘n geleentheid om ’n bietjie spontaan te wees.
Laaste boodskap van Meneer:
Ons het ’n groot skuif gemaak vanaf Gauteng na die Wes-Kaap toe. Dit was vir my goed. DF was vir my goed. DF se personeel was vir my goed. DF se kinders was vir my goed.
Ek is ongelooflik trots op die skool. Ek is trots op my personeel en die leerders. Ek voel ek het dalk ’n bydrae gelewer. ‘n Mens sien dit nie altyd nie, maar ek voel trots en gelukkig met die tyd by DF.
Laaste bietjie raad – bly hoop, sien altyd die positiewe. Die glas is half vol eerder as half leeg. Dis iets wat ek probeer uitleef en hoop om ook oor te gee aan die volgende groep wat oorneem.
Ek gaan steeds vir DF met groot oë dophou.
Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.