Amadeus (1984) – ’n “wonder”- film

[Nienke de Vaal]

“Sire, only opera can do this. In a play if more than one person speaks at the same time, it’s just noise, no one can understand a word. But with opera, with music … with music you can have twenty individuals all talking at the same time, and it’s not noise, it’s a perfect harmony!” (uit Amadeus)

Amadeus is ’n amper drie uur lange fliek wat ’n historiese biografiese, maar wel ’n grotendeelse fiktiewe kykie op Wolfgang Amadeus Mozart se lewe gee.

Die fliek volg die verhaal van die fiktiewe mededinging tussen Mozart en die Italiaanse komponis, Antonio Salieri. Die storie word deur, die groen van jaloesie, Antonio Salieri vertel beweer het dat hy verantwoordelik was vir Mozart se dood. 

Salieri, wat nie ’n briljante komponis op Mozart se vlak was nie, word verdoem om die gehoor van ’n eersteklas komponis en musiekliefhebber te hê. Hy is dié een wat Mozart se Godgegewe talent die beste raaksien en weet hoe sleg sy werk daarteenoor is. 

Interessant genoeg beteken Mozart se tweede naam, Amadeus, in Latyns “liefde van God” wat ook deel vorm van die sentrale tema van die fliek.

Regdeur die fliek noem Salieri dat hy nie teen Mozart gekant is nie, maar ’n mededinging teen God het. God weerhou hom van sy begeerde talent om goddelike musiek te skryf en gee dit vir Mozart, ’n lawwe wonderkind met ’n liefde vir drank en partytjies. Mozart neem glad nie sy talent ernstig op nie.

“This is not a vulgarization of Mozart, but a way of dramatizing that true geniuses rarely take their own work seriously, because it comes so easily for them,” skryf Roger Ebert, ’n bekende kritikus, in sy resensie oor Amadeus.

Dit is beslis ’n boeiende fliek wat nog lank in die agterkant van jou gedagtes sal wroeg. 

Die meerderheid van die film is in Praag, Tsjeggo-Slowakye geskiet. Dit pas die film se tydperk perfek omdat ’n groot deel van Praag se strate en geboue nog onveranderd vanaf die 18de eeu is. Die regte paleise, pragtige en uitspattige kostuums en pruike sowel as die groot partytjies en feesmale trek jou in die storie na Wene in die 1700’s in.

Die klassieke musiek wat die perfekte agtergrond vir die film skep, gepaard met die dramatiese, pragtige en dekoratiewe skote (waar daar interessant genoeg slegs natuurlike lig en kerse gebruik is), maak die fliek ’n feesmaal vir jou gehoor en sig.

Die regisseur is Miloš Forman, wat ’n Oscar gewen het vir die beste regisseur, en is op Peter Shaffer (wat ook ’n Oscar gewen het vir die beste draaiboek) se 1979 toneelstuk met dieselfde title gebasseer. Die film het ook agt Oscars ontvang.

Nog ’n rede hoekom die film so treffend is, is as gevolg van die akteurs wat hulle goed van hul taak gekwyt het. Die storielyn kry lewe met Tom Hulce se energieke en verspotte uitbeelding van Mozart en F. Murray Abraham wat jou beslis in sy karakter, Antonio Salieri, se skoene laat inklim om sy rustelose obsessie en jaloesie ten volle waar te neem. F. Murray Abraham het boonop ook in 1985 ’n Oscar (as beste akteur) vir sy rol in Amadeus gewen.

Ironies genoeg het die film Mozart gehelp om nie net sy musiek na ’n nuwe generasie van gehore te versprei nie, maar om ook nuwe aandag op Salieri se musiek te plaas. 

Ek sal almal sterk aanraai om hulself te verryk en die Amadeus-film te gaan kyk. Dit sal beslis die (amper) drie ure werd wees. Jy sal tussen al die grappige oomblikke steeds die ware tragedie agter die verhaal kan raaksien en boonop net nog meer waardering vir Mozart (en Salieri) se musiek ontwikkel. 

Antonio Salieri [to Father Vogel]: “I will speak for you, Father. I speak for all mediocrities in the world. I am their champion. I am their patron saint.” (uit Amadeus)


Nienke de Vaal

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.