Armoede – monster van die 21ste eeu

[Anlia Taljaard]

Die monster was en is en sal seker altyd deel van ons wêreld wees, maar wat is die werklike uitwerking op ons samelewings en hoe kan ons ten minste probeer om die monster uit ons land uit te wis? 

Lekker snoesig onder ‘n dik wolkombers met ‘n warm beker sjokolademelk en ‘n goeie film of leesstof. Dit is die lewe. Die gloeiende kaggel met reën wat onophoudelik teen die venster afstroom in netjies rye en die reuk van verruklike groentesop uit die kombuis. Hemels, dink ek.

Op sosiale media gons dit egter oor wydverspreide vloede en genadelose storms wat met die swaar reën die Kaap en Boland teister.  Daar is legio foto’s van huise wat oorstroom of sonder dakke gelaat is. Plakkershutte is selfs in die helfte, dakhoogte of heeltemal onder water.  Definitief nié hemels vir almal nie. 

Waarheen gaan al die arm, weerlose mense nou? Wie gaan help?  Waar kry hulle skoon water, elektrisiteit of enige vorm van hitte en skoon, warm klere? Waarom bly daar baie mense nes sardiens in uiters haglike plakkershutte? Hoe gaan die kinders skool en hoe doen hul huiswerk? Is dit net in ons land?

Suid-Afrika is een van die wêreld se mees ongelyke beskawings volgens ‘n onlangse opname in Maroela Media. Dit beteken dat die gaping tussen ryk en arm ontsettend groot binne ons samelewing is. In realiteit beteken dit ‘n paar baie gelukkige siele woon in paleise van tot R150 miljoen in Kampsbaai teenoor ‘n enorme klomp ongelukkige siele wat in plakkershutte in Khayelitsha woon.

Armoede is dus die groot monster in die vertrek wat ons óf ignoreer óf nie eens raaksien nie. Hoe word ‘n mens dan nou arm?  Hoe beland ‘n mens in so ‘n wanhopige situasie in 2024? 

Oupa en Ouma praat soms van hulle ouers wat tydens die depressiejare erg verarm het. Gortsop en brood, mieliepap en sous. Vleislose aandetes vir jare. Die Spaanse griep van 1918. Die Anglo Boere-oorlog en konsentrasiekampe. Kitchener en Roberts se verskroeide aarde beleid en Apartheid, maar 2024 moet egter anders wees? Suid-Afrika het geen oorlog in 122 jaar gehad nie.

Volgens Corporation International het die algehele armoedesyfer in die 1980’s tot onlangs met 50% wêreldwyd gedaal.  Dit is egter grootliks te danke aan China wat hul armoedesyfer vanaf 80% tot 8% verlaag het.  Die statistiek lyk ietwat anders in veral Sub-Sahara-Afrika waar armoede in die tyd egter gestyg het.

Meer skokkend is dat Afrika slegs 11% van die wêreld se bevolking huisves, maar een derde van die wêreld se armoede dra. Suid-Afrika se slegte besigheidsklimaat en min geleenthede in die arbeidsmark verlangsaam en verswak die ekonomie al vir meer as twee dekades en voer op die stadium die monster.

Sal dit nie fantasties wees om te weet dat almal in die land en elders vanaand warm, beskermd, versadig en veilig kan gaan slaap nie?  Ons moet dan begin by die oorsake, gevolge en hoe ons as leke landsburgers hierdie monster kan jag.

Human Right Careers glo vas dat die sondebok vir armoede voor die deur van oorlog, volksmoord, weersomstandighede, hongersnood, geen of onvoldoende onderwys, sosiale ongelykhede, min toegang tot water en elektrisiteit, slegte infrastruktuur, oneffektiewe regeringshulp en korrupsie gelê kan word.

Armoede skep op sy beurt weer ‘n reeks komplekse gevolge soos verswakte geestesgesondheid, swak higiëne en gesondheidsrisiko’s, vuil besoedelde water, karige onaantreklike verblyf, misdaad, swak ekonomiese investering en groei sowel as ‘n afname in toerisme.  Tanzanië, Nigerië, Madagaskar en die Demokratiese Republiek van die Kongo is tans van die armste lande ter wêreld. Business Day Nigeria is van mening dat 337 miljoen Afrikane met minder as $1,90 per dag leef.

President Jim Yong Kim van die Wêreldbank sê dit is moontlik om armoede teen 2030 tot 3% te verlaag. Dit is basies ‘n syfer van 0. Mense kan gereeld tydelik in en uit armoede verval, soos hy verduidelik. Met befondsing, beleid, groter inkomste en produktiwiteit sal armoede oorwin word. Lande en burgers sal egter baie vinnig moet werk maak van die voorstelle aangesien 700 kinders daagliks elke uur sterf aan armoedeverwante oorsake soos malaria, longontsteking en diaree. Dit is 6,2 miljoen kinders per jaar onder die ouderdom van 15. Onnodig en onaanvaarbaar.

Wat is die plan? 

Maroela Media, Beeld, IOL, Business News en die BBC is dit eens: verbetering en toegang tot goeie onderwys en opleiding, werkskepping, skoon water, geestelike en liggaamlike gesondheidsorg, bemagtiging van vroue, beter toegang tot kos en volhoubare verblyf, omgewingsopvoeding, konflikhantering, misdaadbekamping en effektiewe polisiëring, asook die voorkoming van kinderhuwelike – en handelvoorkoming.

Hierdie jaar alleen is 642 898 kinders reeds verkoop as slawe en leef in afskuwelike omstandighede. In die dokumentêr, Troubled waters, is die prys per kind  wat as slaaf in Ghana verkoop word, tans $37. Dit is dieselfde as vir ‘n koei.

Bewusmaking en betrokkenheid is nou meer nodig as ooit.

Anlia Taljaard

Anlia se gunstelingvakke is geskiedenis en wiskunde. Sy is mal oor kuns, het al vir twee jaar in Australië gewoon en sy het ‘n baie oulike hond, Mietsie.