Lohen Chamberlain
Verskeie debatspanne van regoor die Wes-Kaap het op 12 Mei aan die jaarlikse Dink of Sink-debatskompetisie deelgeneem. Ons eie DF-spanne het geskitter deur te dink en nie te sink nie.
Die volgende prosedure word gevolg: Spanne trek ‘n lootjie om te bepaal wie opponerend en wie inleidend is. Die inleidende span argumenteer vir die onderwerp en die opponerende span daarteen. Jy ontvang dan die onderwerp waaarna jy vyf minute voorbereidingstyd het.
Na spannende uitdunrondtes, het DF se A-span die semifinaal gehaal saam met Bloemhof B, Paul Roos A en Durbanville B.
Hulle het in hul semifinaal-rondte gedebatteer teen Paul Roos oor of vloek gesond is of nie. Hier volg ’n opsomming:
André Venter het die debat afgeskop met die aanhaling “Vloek het my deur die oorlog gekry” aldus Winston Churchil en het met daardie kreatiewe momentum die res van sy toespraak volgehou. Sy argument was dat vloek fisiese en emosionele pyn verlaag.
Daarna was Paul Roos se spreker 1 aan die woord. Hy het begin deur André se definisie te verander en die konteks te manipuleer om hul argumente te bevoordeel. Daarna het hy André se argumente aangespreek deur uit te wys dat die verlaagde pyn net vir jouself is en steeds ander negatief kan beïnvloed. Hy het aangevoer dat die nagevolge van vloek erger is as die voordele daarvan.
Leah Coetzee het afgeskop deur te impliseer dat die ander span se argumente waansinnig is. Sy het haar argument verder gevoer dat vloek ‘n manier van uitlating is, aangesien vloekwoorde soms die werklike betekenis van iemand beter kan oordra as normale taalgebruik.
Paul Roos se tweede spreker het toe sy toespraak begin deur te beaam dat kommunikasie ons grootste voordeel bo ander diere is en dat ons nie kan bekostig om dit sleg te benut nie. Hy het Leah se argument aangespreek deur te noem dat vloek impulsief is en dat ons nie kan bekostig om te vloek nie.
Daarna het Alexander Volschenk die laaste argument van die inleidende span gevoer naamlik dat vloek steeds gesond kan wees, dit moet net nie aspris tot skade aangewend word nie en dat dit van die idividu, nie van die woorde nie, afhanklik is. Hy het laastens beaam dat die afbreek van iemand nie eksklusief is tot kru taal nie.
DF A en Bloemhof B het die finaal bereik. Die onderwerp van die tweede debat was “Afrikaans moet ‘n keusevak wees”.
André het die debat weereens afgeskop en het sy argument gevoer dat nie almal Afrikaans praat nie en dat dit hul akademiese prestasie sal affekteer. Bloemhof se eerste spreker het op kritiese denkvaardighede gefokus wat aangeleer word deur jou moedertaal. Sy het genoem dat Afrikaans so kleurvol is en dus jou denkwyse bevorder.
Leah was daarna aan die woord en het Charlize Theron aangehaal: “Daar is net 44 van ons wat dit praat” ten opsigte van Afrikaans. Sy het daarna repliek gelewer deur uit te lig dat kritisie denkvaardighede nie afhanklik is van Afrikaans self nie en deur ander bronne verkry kan word.
Daarna het Bloemhof se tweede spreker genoem dat Afrikaans Nederlands makliker maak om te verstaan en Afrikaans se nut is nie afhanklik van sy waarde oorsee nie. Daarna het sy haar argument gevoer: Afrikaans anker jou in jou gemeenskap en kultuur.
Alexander het toe weggeval met sy toespraak en het repliek gelewer op die vorige spreker. Hy het gesê dat die voordele van Afrikaans oorsee minimaal is aangesien amper niemand dit praat nie. Hy het toe sy argument gevoer dat Afrikaans as verpligte vak mense onderdruk. Hy het genoem dat leerders ‘n keuse moet hê en dat ons die leerders die geleeentheid mooet gee om te kies, nie hulle forseeer nie.
Die laaste konstruktiewe toepraak was deur Bloemhof se derde spreker gelewer. Sy het haar argument gevoer dat aangesien Afrikaans besig is om dood te gaan, ons dit moet bewaar voordat ons dit heeltemal verloor.
Die opgewondeheid was groot toe DF A aan die einde van die aand as die wenner aangekondig is.