[Nienke de Vaal]
“’n Kunstenaar is soos ‘n stoel. Daar is vier bene – ambisie, deursettingsvermoë, intelligensie en dan eers kom talent. As een van die vier nie daar is nie, staan die stoel nie.” – Mimi Coertse
Terwyl die meeste Dee-Effers se aandag by Interhuis en die bekende eise van skoolgaan na die vakansie is, het die kunsstudente hul oomblik van roem met die jaarlikse kunsuitstalling ontvang. DF se graad 12-visuele kuns- en ontwerpstudente het gedurende die eerste week van kwartaal vier hul handearbeid, waarvoor talle laataande en naweke opgeoffer is, by Merk 2024 uitgestal.
Buiten die verskeidenheid pragtige werke en heerlike peuselhappies, het die talentvolle Rentia Retief ook as gasspreker by die opening op Woensdag, 2 Oktober gepraat.
Na afloop van die kunsuitstalling het ek begin wonder oor kuns se posisie in die werkswêreld wat die matrieks nou binnekort betree. Is daar ’n toekoms in kuns vir dié wat dit verder wil beoefen? Is ons familielede se vrese oor die kunstenaarslewe irrasioneel of ongelukkig ’n realiteit? En is die konsep van ’n starving artist steeds relevant vandag?
Wie is dié arm kunstenaar?
Net soos wat Rentia genoem het, dink ons tradisioneel aan kunstenaars as iemand wat geïsoleerd in ’n deurmekaar ateljee werk in groot afwagting vir die dag van hul deurbraak na sukses. Hierdie cliché dat kunstenaars verdoem is om eers ná hul dood regtig waardeer te word, word herhaaldelik deur die media uitgebuit.
Van Gogh verskyn dalk in jou geestesoog – die toonbeeld van ‘n arm kunstenaar. Hy word geag as een van die wêreld se bekendste skilders, maar het slegs ’n handjievol werke in sy leeftyd verkoop en eers na sy dood roem ontvang.
Hierdie stereotipe van ’n starving artist, wat ons steeds aan vasklou, is ’n mite. Die werkswêreld het, nes Rentia genoem het, oor die jare baie verander en meer veelsydig geword.
Die hedendaagse kunstenaar het talle voordele in vergelyking met dié van ’n paar jaar terug. Die internet bied massas inligting en hulpbronne. Beroepe soos grafiese ontwerpers, fotograwe, videograwe, webtuiste-ontwerpers, binnenshuise ontwerpers en kurators is in groot aanvraag. Nog deure word deur digitale kuns, wat meer toeganklik is, oopgemaak. Kunstenaars het boonop ’n massiewe digitale platform waardeur hul direk na hul gehoor kan uitreik.
Met net-net meer as 60 % van die aarde se bevolking wat sosiale media, soos Facebook, Instagram en TikTok, gebruik, moet kunstenaars in hierdie situasie van “as dit pap reën, moet jy skep” dié platforms ten volle benut. Hulle kan ander kunstenaars, gallerye en kopers deur e-posse kontak, aan aanlynkompetisies deelneem en regoor die wêreld hul werke aan selfs vreemdelinge bemark. Alles deur die gerief van ’n skerm.
Natuurlik gepaard met die voordele kom daar ook nuwe uitdagings en verantwoordelikhede. Hedendaagse kunstenaars raak die besigheidsman wat hul produk, naamlik hul kuns, moet verkoop. Hulle raak beïnvloeders (of soos Netwerk24 dit noem – smaakmakers), bemarkingsbestuurders en entrepreneurs. Kunstenaars moet ’n handelsmerk en identiteit vir hulself aanlyn skep en dit strategies gebruik om die werk, saam met die storie daaragter, te verkoop.
Met die nuwe digitale era raak kunsmatige intelligensie se “kuns” ook ‘n faktor. KI raak vir sommiges, wat nie kunstenaars se pryse tegemoed wil kom nie, ’n goedkoper alternatief. Dit kan kunstenaars nog meer benadeel (alhoewel daar wel kunstenaars is wat van KI in die skeppingsproses gebruik maak, maar dit is ’n onderwerp vir ’n heel ander artikel).
Die gevaar van die arm kunstenaar-denkwyse, is nie net dat dit voornemende kunstenaars ontmoedig nie, maar dit veroorsaak ook ’n bose kringloop. Deur die idee dat kunstenaars se enigste doel hul passie vir kuns en nie die geldmaak daaruit mag wees nie, veroorsaak dit dat kuns sy verkoopswaarde verloor. Die kunstenaars verwag min geld vir hul werke en kopers glo hulle hoef nie baie daarvoor te betaal nie. Dit is moeilik vir kunstenaars om ’n inkomste slegs deur die verkoop van hul kuns te verdien as hierdie bose kringloop voortgaan.
Om kuns na matriek verder te neem, is ’n dapper (en nie dwase) besluit nie. Gepaard met die stig van enige nuwe besigheid is daar onsekerheid, opofferings en gesukkel. Dit gaan ’n rukkie neem voor jy noodwendig finasiële sukses behaal, maar aangesien kunstenaars soos entrepreneurs is en entrepreneurs kanse vat, moet jy ook.
Die silwer randjie van die wolk van onsekerheid is dat solank passie en, soos juffrou Dorfling aan die begin van die kunsuitstalling se opening vir Mimi Coerste aangehaal het, ambisie en deursettingsvermoë die goue lint is wat deur alles loop, sal jy as kunstenaar staande bly.
Nienke de Vaal
Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek tree oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.