[Amé Breytenbach]
Partykeer onthou jy nie eens hoe dit gebeur het nie. Jy het só gefokus op die oomblik dat jy ook nie omgegee het nie.
‘n Nuwe omgewing maak als erger. Die stemme om jou wat so seker klink. Die koue, maar tog warm gevoel in jou maag. Die vibrasie van die skoolklok. En die gevoel soos lood in jou voete omdat jy heeltemal vreemd is.
Dit is vreemd hoe baie gevoelens jy op so ‘n dag beleef. Maar die lompheid, die wete dat jy uitstaan, is sekerlik die ergste. Ewe skielik is jy bewus van die wit hemp wat uithang oor die skoolrompie. Joune is ingesteek. Die poublou haarlinte, die vinnige voeteval, dieselfde parfuum wat in al die gange hang. En jy is steeds anders.
In so ‘n situasie is dit baie maklik om te verander. Om jou uniekheid prys te gee vir die vyf minute wat jy voel jy pas in. Dalk doen jy nooit regtig nie, maar die gevoel is steeds daar. Dit laat jou hart huppel, jou hare wip. Want jy dink jy behoort.
Dit is eintlik belaglik, want net hierna skop onrustigheid in. Dit is asof jy dan eers besef dat jy deel van die koekiedrukker-patroon geword het. Dit wat jy eers verpes het, is juis dit waarvan jy deel geword het. Soos ‘n spierwit gans met sonbrille, jou visie word daardeur geblok.
Eers wanneer jy deur dit is, gaan jou oë weer oop. Wanneer jy besef dat niemand anders al gewaag het om te verskil nie, om ‘n nuwe patroon aan te durf nie.
Wat jou laat uitstaan tussen die rooi bakstene en blink vloere, die growwe plaveisel, maak jou spesiaal. En op die ou einde is dít wat saak maak.
Amé Breytenbach