Dune: Part Two – ‘n verstommende skouspel van moderne filmverwerking

[Jana Burger]

Toe filmregisseur Denis Villeneuve se nuutste film, Dune: Part Two, vroeër die jaar in Maart vrygestel is, was ek effens bekommerd dat die film, soos vele ander opvolgfilms, nie so goed soos die eerste film sou wees nie. 

Villeneuve het ons almal verbaas.

Vanaf 7 April 2024 het Dune: Part Two alreeds $660.7 miljoen by die wêreldwye loket verdien en daar word gespekuleer dat die film se totale inkomste beslis meer as $700 miljoen sal wees. In vergelyking met Dune: Part One wat slegs $434 miljoen verdien het, is dit duidelik dat aanhangers van Frank Hubert se sanderige wêreld die film geniet het.

Gebaseer op die sci-fi-boek met dieselfde titel, deur Frank Hubert, is Dune: Part Two essensieel die tweede helfde van die eerste boek in die Dune-reeks. Die storie volg vir jong Paul Atreides wat aanpas by sy nuwe lewe tussen die Fremen op die woestynplaneet, Arrakis, met die doel om ‘n oorlog teen House Harkonnen te loods, nadat hulle byna die hele House Atreides vermoor het.

Boonop word Paul se ma, Jessica (‘n Bene Gesserit-heks), as die Fremen se nuwe Reverend Mother aangewys. Sy probeer die Fremen oortuig van die profesie oor ‘n messias (die Lisan al Gaib) wat oor hulle sal heers. Baie van die Fremen glo dat Paul hierdie messias, wat hulle sal lei en Arrakis in ‘n paradys verander, kan wees. 

In die film van amper drie ure, sien ons Paul se geleidelike agteruitgang, aangevuur deur die profesie, mense se geloof, manipulasie en die idee van politieke en militêre dominasie. Sy transformasie voel nog meer skokkend wanneer ons onthou dat hy slegs 16 jaar oud is aan die einde van die tweede film.

Die film hanteer verskillende temas soos die veranderende ekologiese toestand van die planeet, die potensiaal van die mensdom en die gevare van ‘n valse messias. 

Die film is ‘n visuele fees vir die oë en gepaard met die uitstekende, boeiende klankbaan deur Hans Zimmer, kan ek vir ure in verwondering staar na al die mooi beelde wat deur die film geskep word. Dis pragtig, opwindend en vloei teen ‘n tempo waar jy nie verveeld raak nie, maar tog die kinematografie kan waardeer. Dis ‘n beslis ‘n film wat jy op die grootste moontlike skerm moet gaan kyk. 

Al die akteurs het ook hulself fantasties van hul taak gekwyt. Ek dink dat Timothee Chalamet van sy beste vertonings as Paul Atreides gelewer het. Zendaya as Chani is soos gewoonlik ‘n fantastiese aktrise. Austin Butler is so grillerig as Feyd-Rautha en het hierdie psigopaat uitstekend vertolk. Ek het ook vir Javier Bardem as Stilgar geniet. Hy dien as die grappige karakter (en oorsaak van al die memes) wat noodsaaklik is vir ‘n baie lang, komplekse storie. 

In terme van die veranderinge aan die storie in vergelyking met die boek, het ek gedink dat Chani se karakter baie interessanter is in die film aangesien sy ‘n groter rol speel (en slimmer besluite maak). Anders as in die boek, volg Chani nie blindelings vir Paul nie en het ‘n bietjie meer van ‘n ruggraat. Sy was nooit ‘n slegte karakter in die boek nie, maar ek dink die verandering was ‘n goeie besluit. 

My enigste teleurstelling is die feit dat ons nie vir Alia Atreides in al haar vreemde en grillerige glorie kon sien nie, maar ek hou duim vas vir die volgende film.

Op daardie noot, is aanhangers alreeds besig om te spekuleer oor die volgende Dune-film wat veronderstel is om Paul Atreides se verhaal af te sluit. In terme van die films ten minste. 

Ons praat liewer nie oor die res van die Dune-boeke nie. 

Denis Villeneuve het al in onderhoude gebieg dat hy ‘n breek van die Dune-films nodig het en is tans besig om aan ander projekte te werk, maar sê dat hy beslis Dune: Messiah binne die volgende paar jaar wil vervaardig. Hy het ook in ‘n onderhoud met Vanity Fair genoem dat hy dalk ‘n paar jaar sal wil wag vir Timothee Chalamet om ‘n bietjie ouer te word aangesien daar twaalf jaar tussen die eerste twee boeke verloop.

In ‘n filmindustrie waar elke filmregisseur deesdae die maklike uitweg neem met remakes, opvolgfilms en verwerkings van boeke wat nie verwerk moes word nie, het Villeneuve al die ander groot films van 2024 sover sand in die oë geskop. Ek sou hierdie film ‘n 9 uit 10 gee.

Dune is ‘n ongelooflik komplekse boek om te verwerk en ek haal my hoed af vir almal wat betrokke was by die vervaardiging van hierdie film. Dune: Part Two is ‘n visuele meesterstuk en verdien al die ondersteuning en sukses wat dit steeds besig is om te ontvang.


Jana Burger

Hierdie boekwurm is op ‘n missie om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Jana geniet dit om films te kyk en te analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.