Ervarings in die vreemde

[Dirk Hagen]

Die wieg van die Westerse beskawing, ook genoem Europa, is ’n merkwaardige vasteland wat jaarliks 743,91 miljoen besoekers van wyd en suid se asems wegslaan. Europa is sprokiesmooi en histories fassinerend as jy dink aan die romantiese stad van liggies en liefde in Frankryk, die natuurskoon en luukse wonings van die Habsburgs regoor Oostenryk versprei tot die straatkunstenaars en die gotiese argitektuur van die Rooms-Katolieke kerke in Tsjeggië. Europa lei die wêreld op baie terreine. Kyk maar na die Europese Unie. 

Gedurende die kort Oktober-vakansie, het ek die voorreg gehad om besoek af te lê in vier Europese lande: Duitsland, Hongarye, Tsjeggië en Oostenryk. In die Maart-vakansie het ek ook na Nederland getoer saam met die seunshokkie-toergroep. Die skoonheid van hierdie kontinent met ’n skatkis verborge juwele om te ontdek, het my  stomgeslaan. Elke tree was ’n wonderlike ervaring. Ek het besluit om ’n paar ervarings in die vreemde neer te pen sodat ek stof tot nadenke het en my reis kan onthou.

Tydens ’n gesprek met ’n Duitse inwoner van Regensburg het beurtkrag, wat in Suid-Afrika knaag, die tonge laat klap. Hy het my meegedeel dat Europa meesters is in energiedoeltreffendheid. Daar is verskeie voorbeelde van energiebesparing in behuisingsprojekte regoor Europa.

Die Brusselse projek bekend as L’Espoir, is ’n uitstekende voorbeeld wat teen ’n baie lae koste gedoen kan word in terme van materiale en sogenaamde groen-energie. Lae-inkomste gesinne kan dus huise koop teen redelike lae bedrae. Die huise het houtrame, volhoubare materiale wat deurgaans gebruik word, termiese sonpanele en reënwaterbakke. Boonop het hulle pragtige fietslane, areas wat die natuur onderhou, hernubare brandstof en moderne rioolbehandeling geïnkorporeer. Hulle gebruik gryswaterherwinning waar stortwater hergebruik kan word om landskapareas te besproei en toilette te spoel. Windturbines is ’n algemene gesig. Dit getuig van die kontinent se ywerigheid om ʼn beter toekoms vir Moeder Aarde te bewerkstellig.

Naas stroopwaffels, Hollandse sjokolade voor ontbyt en hier en daar ʼn druppel alkohol, is daar slegs een ander ding waarop Nederlanders versot is. Nee, dit is nie laatnag ekskursies in Amsterdam se Rooi Lig-distrik nie, maar eerder fietse. Europa moedig inwoners aan om fiets te ry. Of dit nou koud en nat is, Europeërs ry fiets. Fietspaaie is ’n standaardkenmerk in stedelike ontwikkelings en vir enige toeris ’n nagmerrie op die sypaadjie. Die hoofstasie in Den Haag in Holland, huisves 3 000 fietse op die parkeerterrein. Hierdie warrelwindromanse met fietse is ongekend vir ons reënboognasie wat grotendeels op motors staatmaak as vervoermiddel. Amsterdam is nog ’n voorbeeld. Slegs 20% van die inwoners gebruik hul motors terwyl 30% fietse gebruik en ʼn verstommende 36% loop. Suid-Afrikaners het geen keuse nie! Hulle is genoodsaak om motors te gebruik en maak die gedig “Gestorwe planeet” deur Eveleen Castelyn ʼn werklikheid.

Die Europeërs se leefstyl spreek van kalmte en rustigheid. Na ʼn verfrissende middagete by ʼn klein Café genaamd Königin 43 naby die Englischer Garten, het ek tyd afgestaan om bietjie te wandel deur die tuine self. Die stadige pas van die lewe het my oorweldig. Paartjies het liefdevol vertoef onder bome, studente het ongestoord boek gelees op houtbankies, mense het met hul honde gestap in die boomryke laning en besigheidsmanne het op die naat van hul rug, ’n uiltjie geknip op die lowergroen gras. Tyd staan stil in Europa, altans dit voel so. Die leefstyl lyk so eenvoudig, gesond en aanloklik. Weereens in sterk kontras met die snelle pas in die Moederstad, wat ons tuiste is.

Hierdie leefstyl word weerspieël in die manier hoe Europeërs een van hulle mees gesogte daaglikse aktiwiteite uitvoer, naamlik eet. Europeërs weet hoe om hul kos te geniet, naamlik ontspanne! In Amerika eet mense omdat dit noodsaaklik is, maar in Europa eet hulle vir die genot.  Mense gaan sit, neem hul tyd en geniet hul kos by die plaaslike straatkafees. Kos en eet word in Europa byna verafgod. 

McDonalds is ’n toevlugsoord vir reisigers. Om elke hoek en draai is een. Gewoonlik is dit ’n goeie plek om goedkoop of bekende kos te kry of om die badkamer te gebruik. Soms is dit lekker om iets bekends in ’n vreemde land te sien, maar mens moet soms buite jou gemaksone beweeg. 

Ons het ’n fees gehad deur tradisionele kosse uit te toets. Ghoelasj in Budapest, wiener schnitzel en appel studel in Wene, trdelník (skoorsteenkoek) in Praag, Byndzové halušky (’n tradisionele aartappelbolletjiegereg met skaapkaas en spek) in Slovakia en bratwurst en suurkool in München. Wat ’n smaaksensasie!

Die taal van ’n land kan ’n taai toffie wees om te kou tydens ’n reis waar die plaaslike bevolking ’n ander taal as jy praat. Gelukkig is Engels redelik alomteenwoordig. Met my gebroke Duits kon ek in Duitsland oor die weg kom, maar daar was tye wat ek met groot oë na ’n spyskaart-item of ’n kaart gewys het om te kommunikeer. Google Translate en Duolingo was egter my redding!  Ek het nie nodig gehad om met ’n mond vol tande te sit nie. My gebrekkige uitspraak het my egter soos ’n paal bo water laat uitstaan en dadelik die ys gebreek.

In Europa is gratis nie altyd gratis nie! Water is nie gratis nie en ook nie badkamers nie. Die tannie by die badkameringang naby die kasteel in Praag, het volstrek geweier om my in te laat alvorens ek haar nie met 0.80 euro (R16) beloon nie. Ek moes omdraai, want sy aanvaar nie bankkaarte nie! Daar is ook ekstra fooie ter sprake vir goedkoop reis met vliegtuie, treine asook verblyfgeriewe wat vinnig baie sal raak as jy nie kophou nie.   

Daar is egter een afdeling waarin Suid-Afrikaners die Europeërs behoorlik klop. Dit is iets wat ek gemis het in my tyd in Europa en somtyds so skaars soos hoendertande is in die wêreld daarbuite. Dit is die eenvoudige groet in die verbygang op ʼn Saterdagoggend tydens my oggend drafsessies, die flou grappies van kuiergaste langs die braaivleisvuur en die vriendelike glimlag van die ou tannie in Pick ’n Pay.  Suid-Afrikaners se gasvryheid en uitoefening van ubuntu is al menige male beproef en bewys, onder andere tydens die FIFA Sokkerwêreldbeker in 2010, die Krieketwêreldbeker in 2003 en die Rugbywêreldbeker in 1994.  Dit herinner my  dat my Suid-Afrikaanse bloed steeds sterk pomp. My wortels is geanker in Afrika-grond en ek bewonder ons nasie met al sy kinkels en kwinkslae. Soos my oupa altyd gesê het: “Die Kaap is weer Hollands” noudat ek terug is. 

Reis is een van die grootste onderwysers in die lewe. Dit trek jou uit jou gemaksone en dompel jou in die onbekende. ’n Wêreld van kulture om te verken  en mense om te ontmoet, word onthul. Reis ontwikkel geduld en nederigheid. Deur nuwe perspektiewe in te win en horisonne te verbreed, kan ons elkeen van mekaar leer en die toekoms met hoop aandurf. Ek stem saam met Albert Einstein: “When you stop learning, you start dying.”

[Foto: Zany Herout]


Dirk Hagen

Dirk se gunstelingtydverdryf is om in die middernagtelike ure koerant te lees met speckled eggs langs hom. Hy is versot op reis, alle vleis, gesprekke rakende politiek en om die onbekende te verken.