[Mischa Coetzee]
“Geskiedenis is wie ons is en hoekom ons is soos ons is.” – David McCullough
Maar hoeveel van die geskiedenis gaan verlore deur die eeue? Hoeveel daarvan word verander om by ʼn spesifieke narratief te pas en hoeveel daarvan is slegs fiksie?
Almal het al die storie van die spandabelrige koningin Marie Antoinette en haar liefde vir koek gehoor. Die legende sê dat toe sy gehoor het van die arm mense van Frankryk en hoe hulle nie brood kon bekostig nie, het sy ewe trots verklaar dat hulle koek moet eet. Hierdie storie is ongelooflik bekend en kom voor in verskeie flieks, boeke en ander vorme van media. Dus sal dit vir verskeie individue skokkend wees om te hoor dat daar geen geskiedkundige bewyse van hierdie bekende sêding is nie.
Die bekende Franse filosoof, Jean-Jacques Rousseau, het in een van sy boeke geskryf oor ʼn soortgelyke verhaal waar ʼn Franse prinses dieselfde verkondig het. Alhoewel Marie Antoinette wel ʼn prinses was tydens die skryf van die boek, was sy slegs ‘n baie jong kind. Dit is dus regverdig om aan te neem, dat sy nie die prinses is waaroor Rousseau gepraat het nie. Tydens Frankryk se revolusie het die revolusionêre enige iets en alles gebruik om die koningshuis sleg te sê. Dit is dus nie skokkend dat hulle ʼn verhaal so ver uit proporsie sou ruk nie.
Die legende van die Trojaanse perd word al vir jare vertel. ʼn Storie oor ʼn enorme houtperd met soldate wat binne-in wegkruip is definitief een wat die aandag aangryp en die skare interesseer. Soos die storie gaan, het die Grieke ʼn enorme houtperd buite die stad van Troje gelos as ʼn kamstige offer aan die godin Athena. Na jare van oorlog het die Grieke die stad se grond gewen deur in hierdie houtperd weg te kruip en hul opponent, die Trojane, te verras. Die Grieke het die Trojaanse mans vermoor en die vrouens ontvoer.
Alhoewel daar bewyse is van die oorlog wat in Troje plaasgevind het, glo geskiedkundiges dat die bekende houtperd nooit bestaan het nie en slegs ‘n werk van fiksie is. Die storie van ʼn humoristiese groot perd verskyn vir die eerste keer in die literêre werk, The Odyssey deur Homer, ‘n bekende Griekse digter. Dus word die ongelooflike storie van ʼn groot houtperd as fiksie geag.
Albert Einstein is die bekendste wiskundige wat die wêreld nog gesien het. Een of ander sêding van hom is waarskynlik in jou wiskunde-juffrou se klas opgeplak. Jy het waarskynlik al gehoor van die bekende verhaal dat Einstein wiskunde gedop het. Indien jy jouself in ʼn soortgelyke posisie bevind, het ek slegte nuus. Daar is geen rekord van Einstein wat wiskunde gedruip het nie.
In realiteit was dit ʼn aanname wat ʼn rabbi wat by Princeton-universiteit gewerk het, gemaak het. Einstein het gereageer deur te lag en te verkondig dat hy integraalrekening op die ouderdom van 15 bemeester het. Ongelukkig kan jy nie die volgende Einstein wees sonder om vir daardie wiskunde-toets te begin leer nie.
Geskiedenis vorm die wêreld en dit is dus noodsaaklik om die regte weergawe daarvan te onthou.
Mischa Coetzee
Mischa se liefde vir geskiedenis sal altyd ‘n plek in enige gesprek vind. Sy is nie bang om oor sosiale kwessies te debatteer nie. In haar vrye tyd sal jy haar by ʼn oudhedewinkel of by die bioskoop saam met haar vriende vind.