Hoop oor grense: DF se uitreik na Zambië 

[Mignon Roux] 

Wat sal gebeur as jy 15 vreemdelinge in die middel van nêrens los? Wel, dit is presies wat op DF se Zambiese avontuur gebeur het. Ons was 11 DF- leerders, een ouer, een voormalige onderwyser, meneer Barnard (nou bekend as oom Tommie), asook juffrou Desfountain en juffrou van Hulst. Van modderspeletjies tot die asemrowende Victoria-watervalle, was elke oomblik van ons uitreik baie opwindend.  

Ons uitreik het om vieruur die oggend, half aan die slaap, by Kaapstad Internasionale Lughawe begin. Na ‘n kort vlug, was ons al klaar in Johannesburg en van daar af het net ‘n katspoegie se vlug gevolg, voordat ons in Ndola geland het. Toe ons in Zambië aankom, was ons ewe skielik nie meer moeg nie en almal was verskriklik opgewonde om ‘n nuwe avontuur aan te pak.  

Na twee ure op ‘n bus, is ons gegroet deur die kampplek, Elpela, se honde, Chocolate en Vanilla. Almal was oorweldig met hoe mooi dit was en ons kon nie glo dat dít ons tuiste vir die volgende twee weke sou wees nie.  Na oorbrugging, het almal hul kampe begin opslaan, behalwe die onderwysers, wat snoesig in ‘n huisie geslaap het. ‘n Heerlike aandete het daarna gevolg.  

Tydens ons uitreik het ons alle aspekte van Zambië ervaar. Vanaf hulle  plaaslike markies tot ‘n fondasie lê vir ‘n gebou, is ons beslis met baie wysheid en ‘n nuwe uitkyk op die lewe gelaat het. 

Een van die uitreik se hoogtepunte was toe almal vir twee aande in  Prudence, ‘n werker by Elpela, se dorpie, Eswon gebly het. Daar het ons  meer geleer oor hoe die huishoudings in Zambië werk, asook hoe om met  net een hand en sonder eetgerei te eet. Die ervaring het regtig ons oë oopgemaak en vir ons geleer hoe om meer dankbaar te wees vir wat ons by die huis het.

Tydens ons tweede laaste dag by Elpela het ons vir die hele dag in ‘n ou sinkgat, Lake Kahiba gaan swem. Baie mense het 12 meter van ‘n boom afgespring terwyl die ander hul asems opgehou het en gelukkig was daar nie baie ernstige beserings nie.  

Na ons laaste dag by die kamp, het ‘n 18 uur lange busrit na die Victoria-watervalle gevolg. Alhoewel dit baie vervelig klink, was dit glad nie. Almal het in die bus deelgeneem aan aktiwiteite soos om armbande te ryg of om gebaretaal te leer saam met ons ander busbestuurder, Percos. 

Victoria-watervalle was lieflik en ‘n paar mense het deelgeneem aan  aktiwiteite, soos om te rekspring of om in die Zambezirivier te gaan roei.  Ander het selfs ons hotel se beroemde krokodilpizza probeer. Op ons laaste dag, het ons met ‘n traan of twee op ons vliegtuig geklim terug Johannesburg toe en toe weer terug Kaap toe na ons families. 

Baie dankie aan almal wat dié ervaring so spesiaal gemaak het en ek sal die uitreik vir almal in ons skool aanbeveel.

Mignon Roux

Mignon is baie lief vir haar twee katte en kyk graag Formule 1 op Sondae. Sy hou ongelukkig baie van Ferrari en spandeer die res van haar week om ‘n beter stokperdjie te soek.