Juffrou Jurgens
Thomas Jefferson, die derde Amerikaanse president, het gesê dat ‘n samelewing se ontwikkelingsvlak gemeet word aan die manier hoe hulle die weerloosste lede van hul samelewing behandel.
Indien Thomas reg is, het ons nog ‘n lang pad om te stap.
Alhoewel ons almal sê ons wil die wêreld ‘n beter plek maak, is die realiteit dat die meeste van ons baie te sê het en vinnig op ons sleutelborde spring, maar min van ons is regtig bereid om ons tyd, geld en gemak prys te gee om weerloses te help.
Wanneer dinge moeilik raak, raak die stemme wat die hardste gepraat het, eerste stil. Die leegste blikke maak immers die grootste geraas. Ons troos onsself met flou verskonings dat dit nie ons apies of ons sirkus is nie. Dis iemand anders se probleem. Laat hulle maar help. Ons is te besig.
Tog, is daar nog mense wat nie bang is om diensbaar te wees nie. Ek sien hulle oral rondom my in die banke van ons skool. Ek sien hulle rondom my wanneer ek op hulle nommers druk en hulle bereid is om te help sonder om iets terug te verwag. Hulle weldade word amper nooit aan die grootklok gehang nie, maar ek sien raak wat hulle doen. In my oë is hulle die onsigbare ruggraat wat DF ‘n ongelooflike plek maak.
Hier is een so ‘n storie wat my trots maak om ‘n Dee-Effer te wees:
Dit was iewers in die middel van ‘n derde periode, op ‘n warm Dinsdag in Maart, toe Amy-Lee Jones in graad 12 aan my klasdeur klop.
Amy wag onseker in my deur met ‘n fronsie tussen haar oë. Paniekerig vra sy in ‘n effense histeriese stemtoon: “Juffrou, kan Juffrou asseblief gou kom help.”
Ek skrik.
“Wie het seergekry?” antwoord ek in my noodhulpstem.
‘n Waterval woorde stroom oor Amy se lippe, maar ek sukkel om te verstaan.
“Niemand het seergekry nie, maar Juffrou móét kom help. Daar is ‘n kat wat nou al vir twee dae in ‘n geut sit. Die katjie kerm vreeslik. Ons dink iets is verkeerd, maar niemand kry die kat uit die geut nie!”
Ek wil-wil my vervies. Tieners kan soms so dramaties wees. “Nou hoekom kom vra jy vir my, Amy? Ek is in die middel van ‘n les.”
“Sorry, Juffrou, maar Juffrou is die een met die 36 katprentjies in Juffrou se klas.”
Touché. Sy het my.
My graad 8’s juig toe ek al verskonend saam met Amy by die deur uitglip. Die klas beloof plegtig om met hulle huiswerk te begin. Chris se ogies vonkel vol kattekwaad. Ek hoop vir die beste, maar ek weet uit ondervinding dat as die kat weg is, is die graad 8’s baas.
By die klerebank aangekom, hoor ek ‘n hartseer gehuil. Khanyisa Luckhoff sit op sy hurke en praat fluisterend met die geut langs die klerebank. Binne antwoord ‘n katjie met ‘n flouerige stemmetjie.
Skuins voor die ingang van die geut lê ‘n hoenderburger se binnegoed. ‘n Hele kolonie miere is besig om die burger stukkie vir stukkie te steel.
“En dit?”
“Meneer Rossouw het vir die katjie ‘n burger gaan koop. Hy het die kat probeer vang, maar toe krap die kat hom.”
(Mmm…nou verstaan ek hoekom mnr. Adriaan Rossouw in die tweede periode ‘n pleister in kamer 11 kom soek het.)
Ek buk af en begin praat ook lieftallig met die geut. Kinders stroom verby ons en nuuskierige agies kom loer af en toe wat ons doen. Die geut hou ons op ‘n afstand met ‘n geblaas en gegrom.
“Hoe op aarde gaan ons dié katjie vang?” vra ek meer vir myself as vir die groepie rondom my.
Dis duidelik nie ‘n katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Die hele pouse probeer ons sonder sukses om die kat te vang.
Die klok konding die einde van pouse aan.
Mnr. Pepler loop effe sleepvoet verby ons op pad na sy klas. Hy is amper verby, maar steek dan vas. Ek lê op die stadium plat op my maag en fluister nou skaamteloos liefdeswoordjies en beloftes vir die geut.
“Wat op aarde maak jy?” vra hy.
Ek voel hoe my ore begin rooi raak. “Hi, Johan. Ek probeer ‘n kat vang,” antwoord ek effe verleë.
Hy skud net sy kop en stap al laggend aan. Ek hoor hom onderlangs mompel: “Jy het nie ‘n kat se kans nie…”
Na twee dae se gesukkel en vele bakkies kos se aandra, het ek nog skaars die kat gesien. Juffrou Lise-Marie Coetzee patrolleer Facebook en die buurtwaggroepies, maar daar is ook nie veel reaksie nie. Een vrou laat weet hartseer sy soek al so lank na haar lieflingkat, maar na sy foto’s stuur, is dit so duidelik soos daglig dat dit nie haar kat is nie.
Ek begin amper mnr. Pepler se woorde glo. My hoop vlam egter weer op toe Shiloh Delport vir my ‘n foto van ‘n klein gemmerkoppie stuur wat by die geut uitloer.
Ek kontak vir me. Jeanne de Jager by die Feral Cat Project wat vir my ‘n vanghok leen om die kat te vang. Die Feral Cat Project is ‘n klomp vrywilligers wat help om weggooikatte en wilde katte te vang, te steriliseer en vir hulle huise te vind.
Ek haal my hoed af vir die groepie vrywilligers. Ek weet nie hoe hulle dit daagliks doen nie. Van katte vang, weet ek eintlik soveel soos ‘n kat van saffraan, maar hulle doen dit daagliks! Sy verduidelik geduldig vir my hoe die hok werk en dat ek net een kans gaan kry om die kat te vang. ‘n Kat word nie sommer twee keer in dieselfde strik gevang nie.
By die huis doen ek my huiswerk, want ek weet ek kan dit nie bekostig om die kat aan die stert beet te hê nie. Ek stel die vanghok vir my eie niksvermoedende katte om op hulle te oefen.
My katte is nie geamuseerd nie.
Gewapen met die vanghok, ry ek die volgende oggend skool toe. Ek stel die wip en hoop vir die beste. Sodra enige iemand verby die area stap, verwilder ek hulle met windmeularms. Hulle kyk my vreemd aan. Ek besef ek lyk nou net so mal soos Don Quixote, maar benoude katte maak benoude spronge en ek het geweet dié is my enigste kans.
Toe ek die valdeurtjie hoor val, voel dit of ek die Lotto gewen het. Binne in die hok is ‘n oranje, gepofte blaasoppie wat blaas en kap na my. Die katjie lyk niks ouer as drie maande nie.
By die huis probeer ek die katjie versorg. Dis ‘n gesukkel. Die katjie is kwaai. Hy laat my nie naby hom toe nie. ‘n Week gaan verby. Katkind kruip steeds in die hoekie van die vertrek in ‘n kartondoos weg.
Week twee is daar ‘n deurbraak. Ek streel liggies met ‘n borsel oor die katjie se lyfie. Eers is hy bang, maar dan begin spin hy. Na ‘n rukkie vervang ek die borsel met my hand. Toe ek weer sien, klim die katjie op my skoot en gee vir my ‘n regte Puss in boots-kyk. My hart vermurwe.
Nog twee weke vlieg verby. Die katjie speel met my veters, help my merk en ry soos ‘n papegaai op my skouers. Ek neem meer foto’s van hom as wat die paparazzi van Billie Eilish neem. Ek vra almal wat ek ken of hulle nie dalk ‘n katjie soek nie.
Drie barmhartige Samaritane tree na vore wat die katjie wil aanneem. Ek besluit om die katjie na die stilste huis te stuur, sodat hy net eers kan leer hoe om behoorlik mak te word. Sy nuwe ouers doop hom “Olkie”, maar in my kop sal hy altyd “Hansie” bly.
Voor Olkie huis toe gaan, kontak ek vir me. Madeli Raisen Endrich by Raise & Rescue. Raise & Rescue het Olkie gesteriliseer, ‘n mikroskyfie in sy nek geplant en ook sy eerste inspuitings gegee.
Raise & Rescue is deur me. Madeli Endrich en me. Liz Barnard begin. Albei is oud-Dee-Effers wat hierdie nie-winsgewende organisasie in hul vrye tyd bedryf.
Toe Olkie huis toe gaan, voel ek verlig. Soveel mense was skakels in ‘n lang ketting om hierdie katjie ‘n tweede kans te gee. Dit bevestig my vermoede dat daar nog baie goeie mense bestaan wat bereid is om weerlose diere te help. Is jy een van hulle? Wil jy ook ‘n verskil maak?
Wonder jy hoe jy kan help?
Eerstens, steriliseer jou troeteldiere. Elke troeteldiereienaar wat nie hulle troeteldier steriliseer nie, het bloed aan hulle hande.
Tweedens, raak betrokke. As jy ‘n dier in nood sien, moenie wag dat iemand anders die dier help of verwag dat ‘n organisasie hulle moet help nie. Welsynsorganisasies verdrink in weggooi diere.
Derders, ondersteun nie-winsgewende organisasies soos Raise & Rescue, die Feral Cat Project en die DBV deur troeteldiere by hulle aan te neem. Jy kan ook jou ouers vra om skenkings vir hierdie organisasies te maak wat hulle weer van hulle belasting kan aftrek.