Koorkampe en koorkrampe

[Emily Byleveld]

Op Vrydag, 2 Februarie 2024 het ’n bus vol koorkinders vanaf DF vertrek. Dit was die begin van ’n interessante asook opwindende afskop vir die koorjaar van 2024.  

Toe ons by Mizpah-jeugkamp aankom, was ons eerste taak om die tasse uit die bus te haal en dadelik saal toe te gaan om ingedeel te word. Nadat almal hul huisnommers ontvang het, het ons uitgepak en gekies in watter kamers en beddens ons gaan slaap. Ons kry omtrent ’n uur om uit te pak voordat ons terug is na die saal, waar ons die nuwe musiek kry en ’n bietjie daaraan begin leer. In die uur wat dit ons neem om uit te pak, het ’n paar van ons selfs gaan swem. Na omtrent ’n uur se oefen, eet ons aandete. Dit is dan tyd vir die ysbreker-konsert. 

Die ysbreker-konsert is wanneer ons lukraak in groepe verdeel word en ’n genre kry waarin ons ’n liedjie moet skep. Ons het omtrent ’n halfuur om voor te berei vir die twee minuut lange optrede. Elke groep tree dan voor die res van die koor op.  Elke groep ontvang ’n ander liedjie en genre, wat  ’n boeiende konsert tot gevolg het. 

Op die eerste dag van die kamp, draf of stap ons gewoonlik saam. Natuurlik woon die hele koor nie hierdie stap by nie, maar genoeg kinders neem deel vir hierdie stap om ’n tradisie te word.

Op die tweede dag van die kamp, het Danielle Rabie ’n zumba-klas aangebied. Dit was definitief ongewoon, maar steeds genotvol. Ons het, na die zumba-klas, ontbyt geëet en toe bymekaar gekom vir opwarming. Daarna is ons verdeel in vier stemgroepe met ’n stemafrigter vir elke groep. Dit is waar ons ernstig word en ons nuwe repertoire aanleer vir die jaar. Tussen oefensessies mag ons swem en afkoel. Dit raak ongelooflik warm in Grabouw.

Saterdagaand is wanneer elke graadgroep saamkom om ’n konstert van hul eie bymekaar te sit. Ons het ’n bietjie meer tyd om voor te berei vir die vyf minuut lange konsert. Daar is geen reëls en tema vir hierdie konsert nie, wat die opvoering meer pret, maar ook meer ingewikkeld maak. Die hele koor kyk na die volle konsert en die graadgroepe tree op in chronologiese orde. Die aand word gewoonlik afgeskop met juffrou Coetzee en juffrou Nel se kinders wat ’n konsert van hul eie aanbied. Hierde jaar het meneer Paige en die ander stemafrigters ook vir ons ’n konsert voorberei, waar hulle vir ons gesing het. Selfs die kamerkoor het hul eie konsert gehad.

Na die aand se opvoerings het ons ’n sokkie gehad. Daarna is ons bed toe gestuur. Saterdagaand is ook wanneer die graad 8’s en nuwe koorlede ontgroen word deur die matrieks. Die res van die koor is welkom om die ontgroening by te woon, maar slegs die matrieks mag naby die nuwe koorkinders kom. Dit beteken nie dat jy veilig is nie.  Ek mag nie presies sê wat tydens ontgroening gebeur nie, maar ek sal wel noem dat dit niks soos ons ontgroening by die skool is nie. 

Teen die laaste oggend is almal uitgeput en hul stemme weg. Na ontbyt oefen ons nog ’n bietjie aan ons stukke en dan begin ons regmaak om  terug DF toe te ry. 

Voordat ons Mizpah verlaat, ruim elke groep hul kamers, sowel as die kampterrein op.  Dit is ‘n tradisie dat meneer Paige op die laaste dag ’n trofee aan die beste stemgroep van die naweek toeken. Hierdie jaar was die trofee, of klip, toegeken aan die soprane, maar volgende jaar mag dit dalk anders wees. 

Die pad huis toe is ’n stil een. Die meeste van ons probeer die slaap, wat ons op die kamp verloor het, inkry. 

My mede-Dee-Effers, namens DF Malan se koor van 2024, wil ek julle graag verseker dat hierdie jaar ons jaar is. Ons kan nie wag om jou by ons volgende optrede te sien nie. 


Emily Byleveld

Emily se gunstelingvakke is Engels en Dramtiese Kunste. Wanneer sy nie besig is met koor, debat, hokkie, orkes of tutor nie, skryf sy vir die Herout. Sy is baie lief vir lees en piesangbrood, maar leef definitief vir Hozier se nuwe musiekalbum.