[Hanler van Eck]
“Musiek is die een universele taal wat harte aanraak en siele verbind.” Of, in ons geval, die taal wat ons help om verskonings te maak oor hoekom ons nie die moeilike note kan bykom nie.
150 opgewonde koorkinders, ongeveer 10% van DF Malan se leerders, het Vrydagmiddag by die skool aangemeld, belaai met tasse, kussings en ‘n hele klomp peuselhappies wat veronderstel was om die hele naweek te hou. Ons het in busse geklim en koers gekies na Mizpah Jeugkamp in Grabouw. Die atmosfeer is gevul met opgewondenheid om die meeste van ons jaarlikse koorkamp te maak.
Toe ons by Mizpah aangekom het, was die weer heerlik — perfek vir ‘n naweek van sing en gesels. Maar kom ons wees eerlik, almal se grootste opwinding, op daardie oomblik, was nie die weer nie, maar die kamerindelings. Sodra jy en jou vriende ingestap het, was dit ‘n wedloop na die kamers toe! Kinders het met entoesiasme hul slaapplekke gekies en kon hulle oë nie glo toe hulle besef dat hulle saam met hul beste tjommies kon bunk nie. Dit was soos ‘n Olimpiese sport — vinnige beplanning, taktiese besluite en ‘n bietjie gehardloop met tasse.
Die middag het amptelik afgeskop met ons eerste kooroefening. Ons koorbestuur en koorouers, meneer Paige en juffrou Coetzee, het ons verwelkom en die reëls en visie van die koor bespreek. Daarna het ons ons nuwe repertoire vir 2025 gekry en dit dadelik begin aanpak — of liewer probeer aanpak, terwyl sommige van ons nog die bladmusiek probeer ontsyfer het.
Daardie aand is ons kreatiwiteit getoets met ‘n ysbreker waar ons in groepe moes jingles skryf, met die doel om vreemde items te bemark, soos ‘n gebruikte toiletskoonmaker en ‘n vreemde flambojante uitvindsel op wiele. Die wenner? Die span wat die uitvindsel op wiele as ‘n revolusionêre veelsydige produk bemark het. Na ‘n ete van smullekker worsbroodjies en warmsjokolade, was dit amptelik ligte uit om 22:30, maar ons almal weet dat die meeste kinders aansienlik later gaan slaap het na ure se gegiggel en storievertel.
Saterdag het met ‘n energieke begin afgeskop: Ons jaarlikse groepstap op die beeldskone Grabouw-grondpaaie. Dit was uiters verfrissend, maar teen die tyd wat ons terug was, het sommige gevoel hulle verdien ‘n middagslapie. Daarna was dit tyd vir sectionals, waar elke stemgroep apart dieselfde koorstuk moes aanpak met besonderse leiding van meneer Paige. Daar was ‘n paar vals note hier en daar, maar toe ons dit alles bymekaar gesit het, was die gevoel onbeskryflik! Ons het almal hoendervleis gekry en nou weet ons dat ons op pad is om fantasiese prestasies hierdie jaar te bereik.
Na middagete het sommige van ons in die warm son gaan swem, terwyl ander net gesit en die betekenis van die lewe (en hoekom hulle so moeg is) oordink het. Maar die grootste opwinding van die dag, was die jaarlikse graadkonsert, waar elke graad ‘n kort vertoning moes gee. Daar was komedie, daar was danspassies, wat nooit weer herhaal moet word nie, en daar was diep emosionele oomblikke. Die graad 12’s het, soos verwag is, gewen met hul laaste koorkampoptrede — en ja, daar was trane. Na ‘n lang dag van sang en pretaktiwiteite, het ons ‘n spontane sokkie gehad waar almal hul laaste bietjie energie uitgedans het.
Sondag het ons met ons laaste sectionals en saamsing begin. Dit was ‘n spesiale oomblik — ‘n herinnering aan hoe vêr ons in net ‘n paar dae gevorder het. Daarna het ons almal ingespring om die kampterrein skoon te maak en ons tasse gepak. Teen die einde van elke koorkamp word daar ‘n spesiale klip toegewys aan die stemgroep wat die beste presteer het en hierdie jaar is dit aan die soprane oorhandig. Voor ons vertrek het, het ons ons 2025-koorkampgroepfoto geneem — ‘n bewys dat ons hierdie naweek oorleef het, maar die koorkamp was nog nie verby nie. Op pad terug het ons ‘n spesiale stop gemaak by Ruben van Rooyen se huis, waar ons hom verras het met ‘n paar van ons mooiste koorstukke. Ruben, wat tans ‘n moeilike kankerstryd veg, was duidelik diep geraak deur ons spontane optrede. Dit was ‘n herinnering dat musiek nie net vir kompetisies en konserte is nie, maar vir mekaar, vir ondersteuning en samehorigheid tydens moeilike tye.
So het ons ongelooflike koorkamp tot ‘n einde gekom. Met nuwe vriende, seer voete en ‘n paar verlore koorlêers, het ons teruggekeer huis toe. Ons stemme was moeg, maar ons harte was vol. Een ding is seker: 2025 se koorjaar gaan ‘n fantastiese een wees!
Hanler van Eck
Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.