[Erica Chen]
Dit was ‘n onvergeetlike paar maande onder ‘n vuurwarm son met harte wat blou pomp. Vir die krieketspanne was daar baie fisiese en emosionele uitdagings, sowel as hoogtepunte wat hierdie seisoen spesiaal gemaak het. Beide die meisies- en seunskrieketspanne het ongelooflike seisoene beleef.
Meisies se eerste span krieket
‘n Span van 13 meisies wat geskiedenis gemaak het, is die eerste span. Met baie potensiaal onder die spelers, kan hulle nog baie grense oorsteek in die toekoms.
Baie spelers het WP-proewe gespeel. Alhoewel hulle nie vir die WP-span gekies is nie, het hulle goed presteer en hard geoefen. Met die regte ondersteuning, leiding en genoeg gees, sal hulle kan floreer en nuwe vlakke bereik.
Gelei deur ‘n sterk kaptein, Minke van Niekerk, en spelers wat hardwerkend is, het hulle deur die moeilike tye wat hulle ervaar het, gewerk en op ‘n hoë noot geëindig.
Onderkaptein, Engela van Zyl beskryf haar ervaring die seisoen as “alles behalwe sleg”. Met ‘n passie vir krieket, het sy haar spanmaats gemotiveer en hulle gees terug opgebou. Sy sê ook: “Hulle het my trots laat voel oor my posisie en die rol wat ek gespeel het.”
‘n Sterk span wat goed saam met mekaar werk, kan net groei en uitbrei as daar meer meisies is wat bereid is om uit hul gemaksone te tree deur iets nuut te probeer.
o. 19-krieketseuns
Afgerig deur meneer Mells en meneer Brandt, is die o.19-seuns ‘n sterk span wat kan spog met goeie en sterk spelers. Met die eerste oorwinning teen Curro Durbanville in 10 jaar, skop die krieketseuns die seisoen op ‘n hoë noot af. Talle hoogtepunte is bereik, vanaf individuele prestasies tot die span as geheel.
D’Neill du Toit het die hoogste individuele telling vir ‘n DF eerste span speler bereik, met ‘n nuwe rekord van 165 lopies. Hy het ook twee 50-talle behaal en twee keer vyf paaltjies in ‘n beurt boulwerk geneem.
Johann Janse van Rensburg het drie 50-talle agter mekaar geslaan.
Charl Botha het twee 50-talle, een 100-tal, asook drie kolfbeurte met 50-talle agter mekaar aangeteken.
As ‘n span, het hulle ‘n suksesvolle Mosselbaai-toer beleef waar hulle slegs een wedstryd verloor het teen die sterk span van Framesby. Hulle het mekaar ook beter leer ken, vriende geraak en selfs saam vis gaan vang.
Alhoewel die prestasies baie was, was die span ook ongelukkig om met een lopie teen Durbanville en ook teen Stellenberg te verloor.
Met ‘n span wat meestal uit matriekseuns bestaan het, is daar sterk verhoudings gebou wat die spandinamiek versterk het. Meneer Mells vertel: “Die manier hoe nuwe jong spelers toegelaat is om deel te word van die spankultuur was voorwaar iets spesiaal. Die span het geёindig as ‘n klomp vriende wat mekaar op alle areas van die lewe begin ondersteun het, nie net op die krieketveld nie. Die vriendskap en kameraadskap wat ontwikkel het, was beslis baie spesiaal.”
Hulle is ‘n goed gebalanseerde span met spandinamiek as hulle sterkpunt. Dit het hulle bevoordeel tydens hulle wedstryde en as ‘n span kon hulle saamwerk en vertroue skep. Kaptein D’Neill du Toit, beskryf sy ervaring as kaptein as “onvergeetlik”. Hy vertel: “Ek het ‘n lekker span gehad waar almal oor die weg gekom het en hulle beste op die veld gegee het, wat my plig as kaptein baie vergemaklik het. Ons het altyd vir mekaar gespeel en die DF-wapen met trots gedra wanneer ons op die veld gestap het.”
Onderkaptein, Johann Janse van Rensburg, bevind dat die span goed saamgewerk het om besluite te neem, dat die skeiding tussen die kaptein en die spelers nie groot was nie en dat ‘n goeie balans in die span ontwikkel het.
Johann vertel van sy hoogtepunt van die seisoen: “By Paarl Gimnasium, toe ek my heel eerste eerste span wedstryd gespeel het, het ons met 240 lopies verloor. Dit was ‘n nederlaag. Dit was verskriklik sleg. Toe ons hierdie seisoen teen hulle gespeel het, het ons met 100 lopies gewen. Dit was ‘n groot verbetering van ons span van die verlede.”
Alhoewel die seisoen geëindig het met ‘n suur smaak in die mond, is daar baie lesse geleer en karakterontwikkeling wat plaasgevind het. Net mooi dinge kan gesê word van hierdie span en hulle sal onthou word vir hul nederigheid, hardwerkendheid en hul lus om te leer en te verbeter.
Meneer Mells vertel verder: “By my is daar net trots en dankbaarheid. Die karakter wat getoon is deur die spelers ten tye van teleurstellings vul my met trots en waardering. Die span en spelers het alles gegee op die veld en oefenveld sonder enige klagtes – iets waarvoor ek dankbaar is. Ek het egter ook baie by hul geleer en hulle het ook iets by my gelaat wat ek vir altyd met my sal saamdra. So by my is daar net dankbaarheid vir hierdie span en vir meneer Brandt.”
Die volgende generasie krieketspelers het dus groot skoene om vol te staan om die DF-naam hoog te hou. Johann se raad is dat hulle altyd hulle koppe hoog moet hou en nie opgee nie. Om mekaar te help opbou, eerder as om hulle kop saam te sak, is belangrik. Hy sê: “Ons moet mekaar eerder opbou as afbreek, want in tye wanneer dit moeilik geraak het, waar die emosies hoog was en almal wou wen, en iemand ‘n fout maak, is daar die gevaar dat mens mekaar kan blameer en die spelers afbreek.”
‘n Spesiale woord van meneer Mells:
“Krieketspelers is spesiale leerders. Seuns en meisies wat bereid is om hul hele Saterdag of middae af te staan vir hul skool, verdien baie meer erkenning as slegs die uitslae wat gegee word. ‘n Spesiale woord van dank aan Engela van Zyl wat vir drie jaar elke wedstryd getrou telling gehou het. Sy het ‘n groot las van ons afrigters afgehaal en sy was altyd akkuraat. Ons kon altyd op haar staatmaak.”
‘n Spesiale woord aan Meneer Mells:
Johann sluit af: “Ons seisoen het baie goed gegaan, grootliks as gevolg van meneer Mells wat ons afgerig het. Vir een laaste seisoen, het ek en D’Neill vir meneer Mells oorreed en dit was ‘n goeie ervaring, omdat dit redelik goed met ons gegaan het en sodat hy vir ‘n laaste keer weer ‘n goeie krieketspan kon afrig. Dit het vir ons baie beteken, want hy weet so baie van krieket en hy het so baie ervaring. Hy weet ook altyd wat die beste vir die span is.”
Spelers
0. 19-krieketseuns | meisies eerste span |
D’Neill du Toit (kaptein) Johan Janse van Rensburg (onderkaptein) Charl Botha Reuben Braxton Colin Burger Daniel du Plesies Eddy Fick Sebastian Gelderblom Benjamin Grobler Allen Nowers Emile Olivier Keanu Swanepoel Etienne van der Merwe | Minke van Niekerk (kaptein) Engela van Zyl (onderkaptein) Shannon Bergh Cailin Britz Janke de Klerk Juan-Mari du Plessis Michela Franken Karla Gerber Lené Laing Carma Naude Saskia Schräder Karla Willemse Tellinghouer: Roné Potgieter |
Erica se gunstelingvakke is gewoonlik die vakke waarin sy sleg vaar of sy kan net nie die taal praat nie. Twee interessante feite oor Erica is dat sy Taiwanees is en dat haar hondjie, Teddy, die oulikste is.
Erica Chen