Nienke de Vaal
Ons is nou aan die begin van 2023 – ’n splinternuwe jaar om nuwe geleenthede en groot drome aan te pak.
Baie mense sien uit na ’n skoon begin met gesonde gewoontes. Sommiges sal dan vir hulself Nuwejaarsvoornemens neerskryf in die hoop dat dit hulle menslikheid kan verbeter. Nuwejaarsvoornemens kan óf doelwitte óf ’n beëindiging van slegte gewoontes wees.
Die nuwe jaar kan ook stresvol wees omdat daar groot onsekerheid is oor die onbekendes wat voorlê. ’n Mens kan oorweldig voel deur al die gewoontes wat aangeleer moet word om die beste weergawe van jouself te wees. Hoe lank sal daardie aanvanklike motivering hou?
Die tradisie om Nuwejaarsvoornemens vas te pen, het al baie jare gelede begin. Daar word beweer dat die antieke Babiloniërs sowat 4 000 jaar gelede reeds Nuwejaarsvoornemens gemaak het. Hul nuwe jaar het in die middel van Maart begin, wanneer die oes geplant is. Dit is gevier deur ’n groot godsdienstige fees waartydens hulle onderskeie beloftes aan die gode gemaak het, soos om hul skuld te betaal en om geleende gereedskap terug te besorg.
Om en by 46 v.C. het die keiser, Julius Caesar, besluit om Januarie in antieke Rome die begin van die nuwe jaar te maak. Die maand Januarie is na die Romeinse god Janusgenoem. Janus het twee gesigte gehad en die Romeine het geglo dat sy gees binne deure gewoon het. Janus se een gesig kyk terug na die vorige jaar en die ander gesig kyk vorentoe na die toekoms. Die Romeine het offergawes aan Janus gegee sowel as beloftes van goeie dade vir die komende jaar gemaak.
In die Middeleeue het soldate aan die einde van die jaar ’n Peacock Vow gemaak wat baie soortgelyk is aan Nuwejaarsvoornemens. Die soldate moes hul hande op `n lewendige of gebraaide pou sit en hul waardes van ridderskap vir die volgende 12 maande hernu.
In die 17de eeu het Nuwejaarsvoornemens gewild begin raak. Christenkerke het dienste op Oujaarsaand gehad waar mense aan hul foute van die verlede dink en besluit om beter in die toekoms te doen.
Gedurende die 18de eeu het mense selfs begin spot met die idee van Nuwejaarsvoornemens en die feit dat dit ’n desperate poging is om al die foute en sondes van Desember uit te vee.
Terwyl Nuwejaarsvoornemens van die verlede meer godsdienstig was, met beloftes en opofferings aan gode, word daar vandag meer op selfverbetering gefokus. Die probleem met Nuwejaarsvoornemens is dat die meeste mense nuwe en gesonde gewoontes wil aanleer, maar gou moed opgee. Moeilike doelwitte en drastiese veranderings is minder geneig om volhoubaar te wees.
Dis belangrik om realistiese doelwitte te stel en teen jou eie pas te werk. Hoe eet ’n mens ’n olifant? Stukkie vir stukkie.