[Nienke de Vaal]
DF se senior dramaleerders het die massiewe voorreg gehad om op 5 Februarie 2024 na ’n produksie van een van die wêreld se bekendste liefdesverhale, Romeo and Juliet, by Maynardville Amfiteater in Wynberg te gaan kyk.
Die tradisie van die jaarlikse Shakespeare-produksie by Maynardville kom al vanaf 1956. Dié produksie van Romeo and Juliet is op die verhoog vanaf 25 Januarie tot 24 Februarie.
Maynardville se stalletjies met eetgoed en drankies, saam met die pragtige liggies wat in die skemeraand skyn, skep ’n gesellige atmosfeer.
Die regisseur, Geoffrey Hyland, het ’n meer komtemporêre kykie op Romeo en Juliet gehad, wat die stel en kostuums betref. Ek het ‘n groot belangstelling in die stel en kostuums van teater. Dit is dus die een aspek van dié produksie waarvan ek nie ten volle gehou het nie.
Die stel was minimaal met slegs enkele betonagtige strukture wat die illusie van ’n gebreekte of verlate gebou geskep het. Dit het regdeur die produksie dieselfde gebly, wat verstaanbaar is, maar dit het nie by die prentjie wat ek voor die tyd in my kop gehad het, gepas nie. Die kostuums was meer modern; baie van die ouens het jeans en leerbaadjies gedra. Ek het uitgesien na die tipiese kleurvolle, oorgedrewe en meer Shakespeare-agtige kostuums. Ek het wel gehou van Juliet se vloeiende lemmetjiegroen rok.
Ek het baie waardering vir die akteurs se tyd en moeite wat hulle ingesit het. As dramaleerder kon ek sien hulle het met baie passie hulle rolle vertolk. Die akteurs se uitbeelding van die ekstreme emosies was beslis treffend.
Romeo (Nahum Hughes) en Juliet (Simone Neethling) het veral hul karakters se mannerismes goed geken en was regdeur getrou aan hulle twee rolle as die jong star-crossed lovers. Ek het Simone Neethling se rou uitbeelding van Juliet die meeste geniet. Sy het haar rol as Juliet uitstekend vertolk en haar laaste toneel waar sy Romeo dood op haar skoot sien lê, en dan die dolk in haar eie bors insteek, het beslis ’n paar trane laat loop.
Die hoogtepunt van die aand was sekerlik die gesamentlike opgewondenheid wat ons almal voor die tyd ervaar het, en dan die gedeelte gevoel van katarsis (die vrylating van sterk emosies, sowel as al die hindernisse wat jy, as die gehoor, saam met die protagonis ervaar het) aan die einde.
Die slotsom van die uitstappie was dit dit ’n aangename ervaring was. Ons het boonop die voorreg gehad om na die opvoering foto’s saam met die hele geselskap te kon neem. Dit was ’n goeie manier om die week mee af te skop.
Nienke de Vaal
Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.