[Vasti le Roux]
Dit is nooit maklik om die bekende vir die onbekende te verruil nie. Soms maak wat jy daar vind, dit egter net soveel makliker.
In Februarie 2024 het ek vir die eerste keer by DF ingestap. Halfpad deur hoërskool, in ’n totale nuwe skool. Natuurlik was daar die opmerkings wat mens verwag het, veral as jy vanaf die grootste opponent kom. Selfs dit was – met min uitsondering – in goeie gees.
Siende dat ek alreeds ’n handjievol goeie vriendinne in DF gehad het, het die eerste dag seepglad verloop. Vriendinne het saamgespan, my gehelp om by die regte klasse uit te kom en om die skool te leer ken. Onderwysers was gretig om my te help opvang met werk wat ek gemis het. Selfs mense wat ek nie geken het nie, het my verwelkom en bygestaan.
Na die eerste week – toe ek al self my klasse kon vind – het ek al hoe meer gemaklik gevoel in hierdie heerlike nuwe omgewing. Ek kon by die koor aansluit, mense het my naam geken en ek het nóg nuwe vriendinne gemaak. Met tyd het ek meer seker gevoel oor my plek in die skool en het ek al hoe minder vraende kyke gekry.
Toe my verjaarsdag aanbreek, het ek vir die eerste keer blomme gekry. Al die nuwe mense wat ek leer ken het, het vir my mooi boodskappe gestuur. Ek het daardie dag meer drukkies gekry as ooit vantevore.
Tydens die Junie-vakansie het ek op die Zambië-uitreik gegaan – nóg iets wat ek nie sou kon doen as ek nie in DF was nie. Dié uitreik het my lewe verander. Dit was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie – grotendeels te danke aan die mense met wie ek dié wonderlike ervaring kon deel.
DF het my met ope arms ontvang in elke aspek van my menswees. Al was dit aanvanklik ’n angswekkende vooruitsig, kan ek nou vir seker sê: Ek is ’n Dee- Effer. En my bloed is blou!
Vasti le Roux
Vasti is die grootste katliefhebber wat jy ooit sal ontmoet. Sy is mal oor lees, geskiedenis van enige aard, musiekluister en het ʼn ongesonde obsessie met mediese dramas.