Ons vir jou, Mzansi …

Ons vir jou, Mzansi …

[Dirk Hagen]

Die Stem van Suid-Afrika:

Uit die blou van onse hemel,

Uit die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes

Waar die kranse antwoord gee.

Deur ons vêr verlate vlaktes

Met die kreun van ossewa –

Ruis die stem van ons geliefde,

Van ons land Suid-Afrika.

Ons sal antwoord op jou roepstem,

Ons sal offer wat jy vra:

Ons sal lewe, ons sal sterwe –

Ons vir jou, Suid-Afrika. CJ Langenhoven

In die anale van die Suid-Afrikaanse letterkunde, resoneer min gedigte so diep soos CJ Langenhoven se “Ons vir jou, Suid-Afrika”.

Langenhoven, ‘n skrywer en politieke aktivis, het die gedig geskryf as ‘n reaksie op die onstuimige gebeure van sy tyd, wat die nasleep van die Suid-Afrikaanse Oorlog en die vroeë roeringe van weerstand teen Britse koloniale bewind ingesluit het.

Vir sommige is hierdie gedig ʼn bron van nostalgie van ʼn regime wat blyk om lank vergete te wees in ons hedendaagse nasie. Sommige mag dit dalk beleef as ʼn herinnering aan eenvoudiger tye, waar die gesang gesing is voor saalbyeenkomste in die ouer geslag se jongdae. 

Vir die oorgrote meerderheid mense, is hierdie gedig egter ’n herinnering aan ’n tyd in ons land se geskiedenis waar die realiteit van Apartheid diep wonde gesny het wat vandag nog telkens oopgekrap word deur politieke retoriek.

Hoe omstrede ook al die voormalige volkslied is, dit het sy merk gelaat in die geskiedenis van Suid-Afrika waar dit vandag nog met sy eweknie, Nkosi Sikelel’ iAfrika deur Enoch Sontonga, die moderne volkslied van die reënboognasie vorm. Terwyl sommige kritici argumenteer dat die gedig se nasionalistiese vurigheid dalk verouderd of uitsluitend lyk in vandag se multikulturele Suid-Afrika, beskou ander dit as ‘n oproep tot inklusiwiteit en kollektiewe vooruitgang. Jong digters en kunstenaars herinterpreteer gereeld Langenhoven se temas deur kontemporêre lense en spreek kwessies van sosiale geregtigheid en ekonomiese gelykheid hierdeur aan.

So QUO VADIS vir ons as Afrikaner? Hierdie is trefwoorde waarmee die Afrikaner telkemale al tevore gekonfronteer is. Of dit nou kaalvoet oor die Drakensberge is tydens die Groot Trek of tydens Republiekwording in 1961 of in die loopgrawe van die Anglo Boereoorlog, was die voortbestaan van ons volk nooit ’n sekerheid nie. Die vertaling vanuit Latyn stel die vraag: “Waarheen nou?”

Die Afrikaner is egter nie die enigste bevolkingsgroep wat ‘n identiteitskrisis in die gesig staar nie.  Elke bevolkingsgroep in Suid-Afrika,  maak nie saak hoe divers nie, moet te midde van vele uitdagings hulle plek probeer vind  in ʼn sogenaamde reënboognasie met een enkele staat, een volkslied, een sportspan, een president, een vlag en een samelewing.

Geen nasie is al in die gesig gestaar met hierdie enorme taak wat ons opgelê is in 1994 onder leiding van ons geliefde Tata Madiba nie. Ons vaar die onbekende alleen in, sonder enigiemand om te raadpleeg. Hoewel ons as land al ver gekom het sedert 1994, is daar op vele gebiede nog bittermin vordering gemaak in ons strewe na een Suid-Afrika.

Die 2012 Ontwikkelingsverslag dui daarop dat Suid-Afrikaners basies geen sterk politieke verbintenis met die nuwe Suid-Afrika weerspieël nie. Verder beaam ʼn studie wat deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika vir The Journal of Modern African Studies befonds is, my argument. Dit bevestig dat sosiale identiteite in Suid-Afrika toenemend rondom inwoners se plaaslike woonbuurte gekonstrueer word en steeds langs bestaande etniese, klas- en rasse-identiteite. Eerder as die sosiale kohesie wat deur die regering gesoek word, dui hierdie sub-nasionale identiteite op volgehoue ​​sosiale polarisasie. 

Wat het geword van die droom van ʼn nasie vir ieder en elk wat inkoop op die veelrassigheid van Suid-Afrika? Benewens die hebsug van staatsamptenare wat die verlede uitbuit vir politieke mag, is hulle nie die een en enigste sondebokke nie. Dit is ons.

Ons wat mure om onsself bou en onsself ontneem van ervarings. Ons  wat vooropgestelde idees het van ons mede-Suid-Afrikaners. Ons wat weier om aan te pas en die droom ʼn kans te gee. Ons wat ingee op populistiese idees en grootpraterige politici hulle sin gee. Ons wat weier om uit ons gemaksone te tree. 

Politici kan hulself blou praat oor diversiteit en nasionale eenheid, maar die ware sleutel tot sukses lê in my en jou hande. 

Na afloop van my termyn as Junior Burgemeester van die Stad Kaapstad en gesprekke met Suid-Afrikaners regoor die land, het ek vele ontmoet wat gretig is om saam te werk, om te herbou en hande te vat. Dié wat nie kans sien vir die uitdaging nie, is in die minderheid alhoewel dit dalk nie so voorkom nie. Die saad is geplant en die grond ryp, al wat kort is doelgerigte aksie om die saad water te gee. Doelgerigte aksie vir die groei van die reënboognasie. 

Ek deel nie die visie van sommige Suid-Afrikaners dat ‘n mens slegs kan “vergewe en vergeet” nie. Die verlede is ʼn bitter pil om te sluk. Mense se lewens is verwoes en die gevolge van Apartheid sal nog lank gevoel word.  Ek glo egter in die mentaliteit van die Romeinse god, Janus. Janus het twee gesigte, een wat die toekoms instaar en die ander wat die verlede in ag neem. Dus, met begrip van die verlede en met aksie vir die herbou en herstel van gebroke siele en huishoudings, sal ons land vooruitgaan. 

Quo Vadis, Suid-Afrikaner?

Terwyl Suid-Afrika sy reis na versoening en vooruitgang voortsit, glo ek dat ​​”Ons vir jou, Suid-Afrika” vandag steeds relevant is om te inspireer, denke uit te lok en te verenig. Die gedig beklemtoon die belangrikheid daarvan om ons nasie se ryk kulturele erfenis te verstaan ​​en betrokke te raak, terwyl dit ons ook uitdaag om ‘n toekoms in die vooruitsig te stel wat gebou is op gedeelde waardes van verdraagsaamheid, geregtigheid, respek en solidariteit.

In wese bly CJ Langenhoven se gedig nie net ‘n oorblyfsel van die verlede nie, maar ‘n rigtinggewende baken vir die komende geslagte, wat hulle daaraan herinner dat hul optrede vandag die Suid-Afrika van môre vorm.

So kom ons beweeg almal voorwaarts na ʼn land van nasionale eenheid, samesyn en ʼn gesamentlike visie. Voorwaarts, hand aan hand met die verlede agter ons, maar nie vergete nie. 

So sluit ek my hoofstuk as joernalis vir die Herout af, met die volgende slagspreuk: Ons vir jou, Mzansi. ʼn Meer geskikte slagspreuk vir ons demokrasie. Een wat ons broeders en susters van ander kulture integreer. Ons, as Afrikaners, moet met ons nuwe identiteit woeker en ons plek vind in die reënboognasie, skouer aan skouer met ander landsburgers. Slegs verenig in ons diversiteit, sal ons sukses behaal. 

“United we stand. Divided we fall.” – Patrick Henry

Dirk Hagen

Dirk se gunstelingtydverdryf is om in die middernagtelike ure koerant te lees met speckled eggs langs hom. Hy is versot op reis, alle vleis, gesprekke rakende politiek en om die onbekende te verken.