Oranjerivier-toer 2023

Mieke Verster

Tydens die April-vakansie het DF se graad 9-leeders die voorreg gehad om saam met Amanzi River Adventures vir die 45ste keer op die Oranjerivier in Namibië te gaan roei. Wat ‘n avontuur het op ons gewag!

Die 37 leerders wat braaf genoeg was vir hierdie vyf dae van roei, het Woensdag, die 29ste Maart, rondom twaalfuur die aand vanaf DF vertrek. Die busrit was 12 ure lank tot by Amanzi se kampgronde, maar met die opwinding kon niemand daardie aand slaap nie. Daar was drie stoppe waar ons kans gekry het om ons bene te rek en al die geld wat ons ouers ons gegee het te blaas op sjokolade en garage pies. Dit is ‘n wonderwerk dat niemand siek geword het nie.

Omtrent halfeen Donderdagmiddag het ons by Amanzi se kampgronde aangekom, moeg maar opgewonde. Ons het twee ure gehad om al ons kos, klere en slaapgoed in swartsakke en emmers te pak en ‘n bietjie te gaan afkoel in die rivier voor ons die 63 kilometer aangepak het.

Daardie Donderdag het ons ongeveer 17 kilometer geroei tot by ons eerste kampplek. Die res van die aand was rustig met swem, lekker Namibiese wors op die kole en sterre en satelliete kyk. Min het ons geweet hoe seer ons skouers en arms die volgende dag sou wees.

Dag twee het opwindend begin met ‘n massiewe stroomversnelling wat vir ons reg om die draai gewag het. Ons het so vier kilometer geroei tot ons vir middagete gestop het. Na middagete het ons ‘n verskriklike steil berg uitgeklim en bo groen kwarts klippies opgetel wat ons later die aand in die vuur gegooi het om vonke te maak. Ons het toe nog vyf kilometer tot by ons nuwe kampplek geroei.

Daardie aand het ons tjops geëet met baie knoffelbrood. Ons het ook tot laat in die aand speletjies gespeel en geluister na die gebulder van die grootste stroomversnelling, Sambok, wat ons die volgende oggend moes aanpak.

Saterdag het ons goed begin en deur die meeste van Sambok se struikelblokke gekom, maar ons het onderskat wat nog voorlê. Na ‘n kort breek was ons weer op die rivier en alles het begin skeefloop. Die klippe, strome en boomtakke van die tweede deel van Sambok, het baie van ons ondergekry. Ek en my roei-maat se kanoe moes ook deur die gidse uit die water gehaal word. Ons het ons derde dag ook omtrent tien kilometer geroei.

Ons was by ons kampplek verwelkom deur honderde muggies. Daardie aand was biefstuk en baie pakkies Two minute noodles op die spyskaart.

Ons laaste dag op die rivier was baie rustig met omtrent net twee stroomversnellings. Ons het ons laaste 20 kilometer met gemak geroei en was baie hartseer toe ons Amanzi se terrein gesien het. Vinnig het ons ons kanoes en emmers op die trokke gelaai. Met ‘n yskoue koeldrank het ons die uur se ry na Amanzi se kampgronde aangepak.

Toe ons daar aankom, kon ons vir die eerste keer in amper vyf dae stort, hare was en onsself in die spieël sien. Daar was ‘n hele paar geskokte gesigte. Ons het al ons sakke gepak vir die volgende dag se 12 ure ry huis toe.

By Amanzi het ons wonderlike potjiekos gekry vir aandete asook roomys met sjokoladesous. Ons almal was baie opgewonde om ons Oranjerivier-hemde te kry en ‘n paar van ons het ook by Amanzi ekstra T-hemde gekoop.

Die volgende oggend was ‘n hartseer een, maar ek dink almal was reg om weer by hul families te kom. Juffrou van Hulst, en die res van die personeel wat saam was, het ons veilig by die huis gekry. Ons almal is baie dankbaar vir haar en al die ander wat hierdie toer moontlik gemaak het. Ons almal sal dit verseker weer in graad 11 wil doen!