Mignon Roux
Was jy al baie opgewonde om ’n plek te besoek en dan is jy teleurgesteld as jou verwagtinge nie ontmoet word nie? Dit gebeur so baie in die stad van liefde dat hierdie verskynsel die Parys-sindroom genoem word.
Met die talle sakkerollers en baie swak (en duur) hotelle, gaan jy eerder die armsalige lewe van Remy in Ratatouille ervaar in plaas van die lewe van Emily Cooper in Emily in Paris.
Wanneer die realiteit van die moderne Parys, met sy uiters onbeskofte diens en verwarrende openbare vervoer, inskop, kan sommige toeriste glad nie hierdie ontnugtering hanteer nie. As dit boonop saamgaan met uitputting en taal- en kultuurhindernisse, kan kultuurskok sielkundige nood veroorsaak. Party Japanese toeriste is al gehospitaliseer met ernstige gevalle van angs en depressie. Alhoewel dit ’n erkende siekte is, met toenemende getalle pasiënte elke jaar, word dit meestal figuurlik gebruik en nie in die sin dat jy aan ‘n geestesiektes ly nie.
Die Parys-sindroom hang ook af van watter tyd van die jaar jy Parys gaan besoek. Jy kan ’n heerlike tyd beleef in die Louvre nadat jy na die TikTok– bekende Dior-museum toe gaan in Champs-Elysees. Ongelukkig is daar meer om te haat in Parys as om lief te hê. Dink net aan die reuk van urine in die strate en om nie in die metro te kan beweeg gedurende spitstyd nie.
Parys-sindroom is nie net sleg nie: Dit leer jou om meer realisties te wees as jy op vakansie gaan of oor die lewe in die algemeen en dat jou verwagtinge nie te hoog moet wees nie. Jy gaan nie noodwendig die liefde van jou lewe êrens voor die Eiffeltoring ontmoet nie.