Andrea van Wyk
Breaking Bad word oor die algemeen die meeste geprys vir sy vermoë om die progressie van die hoofkarakter vanaf man na monster uit te beeld. Iets wat egter nie genoeg geprys word nie, is die kleiner deeltjies wat die reeksvervaardiger, Vince Gilligan, gebruik om die storie te vertel: Die omgewing, die ligging, die beligting, die temas en meer is baie belangrik vir die sukses van die reeks. Volgens mý is die gebruik van simboliek die hoofrede waarom dit so briljant is.
‘n Kort opsomming
Bryan Cranston as Walter (Walt) White en Aaron Paul as Jesse Pinkman: Walt is ‘n saggeaarde hoërskool-Chemie-onderwyser wie se terminale longkanker hom (met behulp van Jesse) draai na die lewe van ‘n koning in die plaaslike metamfetamien-handel. Aanvanklik was dit net ‘n plan om geld vir sy gesin te maak.
Die reeks bestaan uit vyf seisoene met ongeveer 13 episodes per seisoen. Die reeks het ook ‘n prequel met die naam Better call Saul, asook ‘n opvolgreeks, El Camino.
Breaking Bad herinner my aan Macbeth, ‘n tragedie deur William Shakespeare, as gevolg van die ooreenkomste. ‘n Voorbeeld is dat albei se hoofkarakters gesien word as tragic heroes – basies ‘n karakter met ‘n eienskap wat na hul nederlaag sal lei.
Die broeke in episode een
Een van die eerste beelde wat ons in Breaking Bad teëkom, is ‘n manslangbroek wat deur die lug waai. Kort daarna sien ons ‘n man in sy onderklere en ‘n gasmasker wat besig is om in ‘n RV rond te jaag. Langs hom in die passasiersitplek lê ‘n bewustelose man met ‘n gasmasker aan en agter is daar twee lyke wat oor die vloer gly.
Met soveel aan die gebeur, gee jy nie dadelik baie aandag aan die broek in die wind nie, maar dit skep dadelik die toon van die situasie wat ons volgende sien: Chaos en ‘n gebrek aan beheer van die RV-bestuurder wat ons later uitvind, is Walt.
Soos die episode vorder, sien ons hoe hierdie beeld herhaal word:
Nadat Walt met kanker gediagnoseer is, sien ons weer die broek-simbool. Dit kom voor in een van die belangrikste tonele in die reeks, waar hy ‘n oplossing vir sy lewe vind, maar alles buite sy beheer word. Dis wanneer hy die eerste keer weer vir Jesse sien. Jesse is besig om met sy broek in sy arms deur ‘n venster vanaf ‘n intense toneel te ontsnap. Walt volg hom en neem beheer oor sy lewe deur voor te stel dat hulle saam meth kook.
Later in die episode is Walt, sy vrou en seun, onderskeidelik gespeel deur Anna Gunn en RJ Mitte, besig om vir Walter Junior, ook Flynn, broeke aan te pas. Weens sy gestremdheid, kan hy dit nie self doen nie. Daar is ‘n groep tieners wat eenkant staan en vir Flynn terg. Ons sien dan hoe Walt onverwags by die winkel uitloop, terugkom en dan een van die tieners aanval – iets wat hy vantevore nooit sou doen nie. Wanneer hy eers by die winkel uitloop, voordat hy die tiener aanval, word die idee geskep dat Walt se ware self uitloop en terugkom as sy alter ego in die reeks, Heisenberg.
Die ooreenkoms met die broek mag dalk onbelangrik lyk, maar in elke toneel koppel die broek aan een tema: beheer.
Beskadigde visie
In Breaking Bad kan ons sien dat die twee hoofkarakters herhaaldelik in situasies beland waar hul sig belemmer of beskadig word. Jesse is die grootste voorbeeld: By verskeie geleenthede word een van sy oë beskadig as gevolg van die slae wat hy kry. Dit het natuurlik ‘n impak op sy fisiese visie, maar as jy ‘n bietjie dieper kyk, sien jy dat hierdie beskadigde visie ‘n blindheid vir die gevolge van aksies simboliseer.
Aan die begin van seisoen drie, sukkel Walt om te aanvaar dat sy optrede gelei het tot die dood van onskuldige mense en die vernietiging van sy eie familie. Hy kies doelbewus om dit en die gevolge nie raak te sien nie.
Terwyl Walt self geen beserings toon nie, word sy blindheid vir die gevolge van sy dade weerspieël deur sy kar se voorruit wat twee keer in die seisoen erg beskadig word.
Die vlieg
Die hele episode 10 in seisoen drie word gewy aan hierdie simbool: Walt raak obsessief oor ‘n vlieg wat sy laboratorium binnedring en weier om met die meth-kookproses voort te gaan (of te slaap) voordat die vlieg nie dood is nie. Hy raak toenemend gefrustreerd omdat hy onsuksesvol bly, ten spyte van al die ure se pogings om die vlieg dood te maak.
Ons kan dit afmaak as Walt se toewyding aan perfeksie. Op sy eie kan die vlieg ‘n metafoor vir sy perfeksionisme wees, maar soos die episode vorder, sien ons dat daar iets donkerder agter hierde obsessiewe gedrag skuil.
Gedurende die episode word daar baie op die vlieg gefokus. Dit word nooit gesnap nie totdat Walt aan Jesse erken dat hy spyt is oor sommige keuses en dat hy wens hy vroeër gesterf het nie. Die alomteenwoordigheid van die vlieg, selfs na hierdie erkenning, simboliseer die gevolge waarvan Walt weet hy nooit sal kan ontsnap nie. In sy moeë toestand assosieer Walt die vlieg met sy skuld en kan dus nie rus totdat hy die plaag doodmaak nie.
Teddiebeeroog
Simbole is baie volop in die reeks, maar een van die duidelikste is die oog van die pienk teddiebeer. In episode een, seisoen twee, sien ons hoe daar ‘n halfverbrande, ooglose teddiebeer in Walt se swembad dryf. Later vind ons uit dat dit deel is van die vliegtuigwrak, waarvoor Walt indirek verantwoordelik is.
In episode een, seisoen drie, vind Walt per ongeluk die beertjie se oog in sy swembadfilter. Hy besluit om dit te hou. Kort daarna kom sy swaer, Hank (gespeel deur Dean Norris) na sy huis toe. In ‘n ongemaklike oomblik, tel hy ‘n sak vol van Walt se dwelmgeld op. Walt systap die situasie met ‘n grap.
In episode twee, seisoen drie, sien ons hoe die Salamanca-tweeling op Walt se bed met ‘n byl sit en wag vir hom om uit die stort te klim. Een van hulle sien die oog en tel dit op. Direk daarna kry hulle ‘n boodskap wat versoek dat hulle hom nie moet doodmaak nie.
Die oog herinner Walt dat hy dopgehou word en verteenwoordig die Eye of God. Tog beskerm hierdie alsiende oog hom totdat sy tyd finaal verby is, miskien met die hoop dat hy van deuntjie sal verander.
Hierdie reeks het my al van die eerste oomblik aangegryp en het my dwarsdeur die vyf seisoene op die punt van my stoel gehou. Breaking Bad is ‘n briljante reeks met baie diepte en kompleksiteit waar elke klein deeltjie ‘n groot invloed het.
Ek beveel die reeks vir elke liewe persoon aan.