Skuba: die pad van bokvelsakke tot duisende asems  

Lohen Chamberlain

Duik is nie ’n nuwe konsep nie. Mense het geduik om kos te kry, oorlog te voer en om materiale te versamel. Hul enigste bron van lug was egter die laaste teug wat hulle bo die blou dieptes geneem het. Duikers het die tegniek bemeester om ‘n enkele asem uit te rek. Tog is hulle steeds deur hul longkapasiteit beperk.

Mense het eers hol riete gebruik om onder water asem te haal. Dit was egter oneffektief, aangesien jy op jou rug moes lê en nie verder as 30 cm onder water kon asem kry nie. Boonop kon jy nie die seevloer sien op jou rug nie, wat onderwater-ekspedisies moeilik gemaak het. 

Hulle sou ook gebruik maak van bokvelsakke, waarmee hulle suurstof onder water geneem het om die avontuur te verleng. Dit was ‘n goeie idee, behalwe vir die verhoogde druk onder die water. Dit was dan eintlik net ‘n halwe asem werd. Klippe is saamgeneem om die lug onder water te hou, wat addisionele moeite geverg het.

Een van die grootste ontwikkelinge in die veld was die diving bell. Dit is ‘n groot bak wat onderstebo onder die water sak sodat jy van onder af kon asem skep. Die lug was ongelukkig vinnig onbruikbaar, te wyte aan koolstofdioksied. Jy dink dalk dat dit ‘n redelike nuwe ontdekking is, maar hierdie metode was al 330 v.C. deur Alexander die Grote in die oorlog teen die Fenisiërs benut.

Met verloop van tyd het dit ontwikkel tot die duikhelm. Dit was ‘n klein diving bell wat oor die duiker se kop geplaas is. Die hoofrede vir die sukses is as gevolg van die tegnologiese deurbrake in die laat 1700’s. Pompe is ontwikkel wat lug onder die water kon pomp. Lug is in die helm ingepomp wat lugdruk voorsien het en dus die water buite die helm gehou het.

Dit het weer verander in die standard diving dress, ‘n waterdigte duikpak. Dit het waterdigte seëls by die arms en is ook aan die diving bell vas. Daar is ook gebruik gemaak van loodskoene om die duiker onder te hou. Dit het duikers toegelaat om die waterruim gemaklik(er) te besoek.

Ontwikkeling is egter beperk deur een onoorkombare struikelblok, borrelsiekte. Hoe langer en dieper duikers geduik het, hoe meer het voorvalle van hierdie onbekende siekte, plaasgevind. Aangesien hulle nog net blootgestel is aan oppervlaksiektes en -probleme, het hulle dit verwar met rumatiek. Hulle het geen manier gehad om die effek van druk op die menslike liggaam te verstaan nie. Dit het net vererger hoe beter hul tegnologie geraak het en hoe dieper hulle geduik het. Hulle het later die siekte The Bends genoem, as gevolg van die effek wat dit op die duikers gehad het, naamlik hoe hulle opgekrul het. In die laat 1870’s is daar egter ontdek dat deur stadig die oppervlak te bereik, die effek vermy kon word.

Die belangrikste deurbraak was in 1943 toe Jacques Cousteau die demand regulator ontwerp het. Dit het duikers toegelaat om die regte hoeveelheid suurstof in te asem in verhouding met hoe diep hulle duik. Dit het duikers vir die eerste keer toegelaat om die see onafhanklik te beleef. Hierdie ontdekking, saam met ‘n suurstofsilinder, het gelei tot die self-contained underwater breathing apparatus, ook bekend as skuba.

Van toe af, was die skuba-sisteem beskikbaar vir die publiek om te koop. Daar was egter geen instruksies of dokumentasie beskikbaar vir nuwe duikers nie, en die professionele duikers was dié wie se krag en hardkoppigheid gekompenseer het vir hul sisteme se swakhede. Die gevare is selfs gesien as deel van die aanloklikheid van die sport.

Die grootste gevaar was die afwesigheid van die lugdrukaanduier. Duikers kon nie sien hoeveel suurstof hulle oorgehad het nie. As dit onverwags opgeraak het, moes hulle vinnig opswem, wat gereeld tot beserings gelei het.

Vandag is die sisteme egter beter. Die reguleerder het maatstawwe wat jou diepte en lugvoorraad aandui. Jy kan nou jou vertikale beweging moeiteloos beheer. Deeglike opleiding vind ook plaas voordat duikers naby die see toegelaat word. 

Duik dus met gemoedsrus. Jy betree ’n veld wat al jare ontwikkel, verbeter en bemeester is.