Star Wars: The Acolyte – A fine addition to my collection

[Eleanor Herbst]

Reeks: The Acolyte

Regisseurs: Hanelle M. Culpepper, Alex Garcia Lopez, Leslye Headland, Kogonada

Hoofakteurs: Amandla Stenberg, Lee Jung-jae, Manny Jacinto

Jy het sekerlik al op een of ander stadium van Star Wars, die wêreldbekende filmreeks wat afspeel in a galaxy far, far away, gehoor.

Die Star Wars-films en stories het oorspronkilik aan George Lucas, die eienaar van Lucasfilm (dieselfde maatskappy wat die Indiana Jones-flieks gemaak het) behoort. Lucasfilm het die ses oorspronklike flieks verfilm en met behulp van Dave Filoni die geanimeerde reeks, Star Wars: The Clone Wars geproduseer. In 2012 is die maatskappy verkoop aan Walt Disney Studios. Die meeste Star Wars-aanhangers stem saam dat dit ‘n groot fout was. The Clone Wars is halfpad deur gekanselleer, die laaste drie flieks is verfilm en die aanhangers was woedend. Die verdere verwagtinge vir dié reeks was baie laag. 

Gedurende Junie en Julie 2024 is die nuutste reeks vrygestel en die aanhangers was, kom ons sê net, nie so gelukkig soos die filmmakers verwag het nie.

Osha is een van ‘n tweeling, maar haar suster, Mae, is jare tevore in ‘n vuur oorlede. Nou, sestien jaar later, het Osha weggeloop van haar drome om ‘n jedi te wees, en doen herstelwerk aan ruimtetuie. Een van vier jedi’s wat die tweeling gevind het toe hulle kinders was, word vermoor. Wat gebeur wanneer sy gearresteer word vir die moord op ‘n jedi master

Volgens ooggetuies lyk Osha presies soos die moordenaar, maar sy was nêrens naby die planeet waar dit gebeur het nie. Sol, haar oud-jedi master, glo sy is onskuldig. Hulle ontdek dat haar tweelingsuster, Mae, steeds leef. Hoekom neem Mae wraak op die jedi wat hulle gevind het? By wie het sy haar vegkuns geleer? As een mens ‘n jedi kan verslaan, wie sou nog kies om teen die jedi te veg?  

In terme van produksie, was dit redelik goed. Die lightsabers en spesiale effekte lyk alles ten minste beter as in 1977. Die akteurs is oor die algemeen oortuigend met hul rolvertolking. Dit is nie The Mandalorian of Andor nie, maar nog steeds goed. 

Interessant genoeg het Disney besluit om inspirasie van die ou Expanded Universe (EU) te kry. Voordat Disney vir Star Wars besit het, was alle vorms van media deel van die storie. Dit het gelei tot idees wat mekaar weerspreek en ‘n baie ingewikkelde intrige wat moeilik was om te navigeer. Nadat Disney Lucasfilm gekoop het, wou hulle die vryheid gehad het om nuwe stories te produseer sonder om die aanhangers nog meer te verwar. Hulle oplossing? Hulle het alles behalwe wat op die skerms was (plus ‘n paar boeke) beskou as die EU of The Star Wars Expanded Universe. Die EU bestaan uit al die ou boeke, TV-reekse en strokiesprente wat nie meer beskou word as amptelik deel van die storielyn nie.

Die storie speel sowat ‘n honderd jaar voor The Phantom Menace af, gedurende ‘n tydperk, die High Republic, wat nooit vantevore op die skerms verskyn het nie. Sekere kragte en wapens wat voorheen net in die EU bestaan het, bestaan nou amptelik in die reeks, byvoorbeeld ‘n lightsaber wat werk soos ‘n sweep. Dit is ‘n tydperk waar die jedi so kragtig was dat niemand eers sou dink dat hulle oorwin kon word nie. Die storie handel oor hoe die jedi moet besef dat hulle nie onoorwinlik is nie, maar hulle weier.

Die clichè van ‘n geheime tweelingbroer of -suster is al menigmaal in stories gebruik en dit is moeilik om dit oorspronklik en nuut te laat voel. Om hierdie wyse is dit ‘n tipiese storie, met die uitsondering dat hulle die karakterverwarring wat tipies in tweelingstories voorkom, baie goed vertolk. Dit is onvermydelik dat as daar ‘n identiese tweeling in ‘n storie is, hulle met mekaar verwar gaan word, soos toe Osha gearresteer word pleks van Mae. In ander stories kan die verwarring te lank aanhou wat irriterend of ‘n bietjie té spannend kan raak. Osha en Mae word nooit verwar vir langer as een episode nie, lank genoeg om spanning te skep en die storie te bou, maar kort genoeg om nie langdradig te word nie. 

Soos baie Star Wars-media fokus die storie meer op familie en vriendskapsverhoudings as romantiese verhoudings. Die karakters het dalk nie so baie ontwikkel soos in ander reekse nie, maar jy kon nog steeds met hulle identifiseer.

Ongelukking stem baie mense nie hiermee saam nie. Die reeks verwerf net 3.8/10 op die IMDB-webwerf. Uit al die resensies is die modus 1/10. 

Die finale opinie – Meh. 

Behalwe vir die milieu, was die storielyn niks nuuts of revolusionêr nie. Dit voel soos ‘n gewone Star Wars-reeks, wat goed of sleg kan wees, afhangende van persoonlike opinie. Dit het nie vreeslik uitgestaan nie, maar dit beteken nie dat dit sleg was of dat jy dit nie moet kyk nie.

Die storie verdien minstens 7/10. Aanhangers sal dit geniet as hulle net bereid is om nuwe ervarings te hê.

Om af te sluit, ‘n paar aanhalings: 

“We’re not defined by what we lose. We’re defined by what we survive. You’ve survived a lot.”

En

“Yord. Put Your Clothes On.”

Eleanor Herbst

Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.