[Lohen Chamberlain]
‘n Verskansingsfonds is ‘n beperkte vennootskap van private beleggers wie se geld deur professionele fondsbestuurders bestuur word wat ‘n wye reeks strategieë gebruik, insluitend hefboomfinansiering of verhandeling van nie-tradisionele bates om bogemiddelde beleggingsopbrengste te verdien.
Die gierigheid van beleggingsfondse is ‘n bekende kwessie wat aandag geniet in die finansiële wêreld. Verskansingsfondse strewe na maksimale opbrengste en groei ten gunste van hul beleggers. Maar in die proses van die nastreef van wins word daar gereeld ‘n oormaat van gierigheid getoon: die oordrewe fokus op korttermynwinste ten koste van langtermyn volhoubaarheid, risikobestuur en selfs die mark. Hierdie strewe na hoë opbrengste kan ‘n fonds aanmoedig om risiko’s te neem wat nie noodwendig in die beste belang van die beleggers en mark is nie. Daarom is dit van uiterste belang dat jy deeglike kennis het oor verskansingsfondse voor jy belê.
Verskansingsfondse bestaan al vanaf die 1940’s. Alfred Winslow Jones word gesien as die skepper van die eerste verskansingsfondsstrategie in 1949. Sy uitgangspunt was eenvoudig: Hy wou die twee hoofrisiko’s wat gepaard gaan met belegging in aandele skei deur ‘n markneutrale portefeulje te skep. Die eerste risiko, markrisiko, word veroorsaak deur veranderende aandelepryse as gevolg van markbewegings. Die tweede risiko, die risiko in spesifieke aandele, word geskep deur faktore wat uniek is aan daardie aandeel.
Jones het mark-neutraliteit bereik deur bates te koop wat se waarde hy geglo het sal styg in verhouding tot die algehele prestasie van die mark, en bates te verkoop waarvan hy die teenoorgestelde verwag het. Die prestasie van sy portefeulje het afgehang van die korrekte keuse van aandele en nie van die rigting van die mark nie. Gevolglik was sy portefeulje mark-neutraal of verskans teen markbewegings.
Jones het die eerste verskansingsfondsproduk in 1952 geskep. Dit was die eerste saamgestelde beleggingsinstrument wat ‘n hefboomstrategie gekombineer het met die heffing van ‘n 20% fooi.
Belangstelling in verskansingsfondse het in die 1960’s begin toeneem na ‘n artikel in Fortune-tydskryf in 1966 wat die prestasie van Jones se beleggingsinstrument beklemtoon het. Die artikel het verklaar dat Jones die beste beleggingsfonds oor die vorige vyf jaar met 44% oortref het, selfs al word fooie in ag geneem. Hierna is daar baie nuwe verskansingsfondse gestig.
Die resessie van 1969 tot 1970 en die markineenstortings van 1973 tot 1974 het veroorsaak dat verskeie verskansingsfondse gesluit het. Jones se fonds self het meer as 10% meer as die S&P (die gemiddeld van die 500 grootste maatskappye) verloor in die 12-maande periode tot 31 Mei 1970. Tog het Jones oor die 34 jaar bestaansgeskiedenis net in drie jare ‘n verlies gely.
Die verskansingsfondssektor het oor die 1980’s verder ontwikkel met baie fondse wat buitengewone groei ervaar het as gevolg van prestasie en toenemende belangstelling van ryk individue en families. Aan die begin van die dekade was die bates wat belê is in die honderde miljoene; teen die einde daarvan het die grootste fondse meer as $1 miljard elk beheer.
Die veranderende markte van die 1980’s het baie geleenthede vir verskansingsfondse gebied. Die kombinasie van ‘n onbeperkte beleggingstyl, die gebruik van instrumente om hefboom te verhoog, en groot bewegings in die geldeenhede- en kommoditeitsmarkte het enorme opbrengste gegenereer vir sommige beleggers. Die verskansingsfondse van die 1980’s was klein (met min werknemers), maar het enorme opbrengste genereer; ‘n stereotipe wat steeds voortduur, al is dit nie altyd die werklikheid nie.
Verskansingsfondse het gegroei en ongelooflik presteer in die 1980’s, maar dit was in die 1990’s dat die sektor werklik uitgeblink het.
Hierdie era is gekenmerk deur die opkoms van superster-bestuurders, sowel as ‘n ontploffing van nuwe strategieë binne die hefboomfondssektor. Die hefboomfondse het oorgespoel van produkte wat beleggings van lang- en korttermynaandele bevat het tot ‘n breë groep bateklasse en beleggingstyle.
Verskansingsfondse het selfs verder in die hoofstroom beweeg gedurende die 2000’s. Institusionele beleggers soos pensioenfondse, versekeringsmaatskappye en staatsbeleggingsfondse het hul eerste beleggings in hefboomfondsprodukte gemaak. Die totale bates het vinnig uitgebrei en teen 2008 bykans $2 biljoen ($2 000 000 000 000) bereik.
Die opkoms van subprima-leningsverliese in 2007 het die krisis begin en ander riskante lenings en ooropgeblaasde batepryse blootgelê. Verskansingsfondse het finansiële markte gedestabiliseer deur miljarde dollars van prima makelaars en hul moederbeleggingsbanke te onttrek uit vrees dat daardie bates gevries kan word as die banke bankrotskap verklaar. Dit het in September 2008 toegeneem met leningsverliese en die val van Lehman Brothers op 15 September 2008, wat ‘n groot paniek op die interbankleningsmark veroorsaak het.
Alhoewel verskansingsfondse nie direk verantwoordelik was vir enige van die skade nie, het hulle steeds ‘n rol gespeel, aangesien hulle hul bates bo die mark geprioritiseer het en gereeld teen die mark gewed het.
Die Global Finance Crisis (GFC) in 2008 was steeds ‘n krisis vir hefboomfondse. Baie fondse het gesluit na swaar verliese, beleggers het bates teruggetrek, en as gevolg hiervan het die bates onder bestuur aansienlik gedaal. Die afgelope dekade het die mark kalmeer, maar die nagevolge van Covid-19 en ‘n potensiële depressie hou die mark op sy tone. Wanneer jy belê, hou maar net in gedagte: verskansingsfondse: gierig of geïnspireerd?
Lohen Chamberlain
Hierdie skrywer hou homself besig met debat en rekenaarprogramering en knoop graag spitsgesprekke aan oor enigiets onder die son.