Waar die visse loop

[Nienke de Vaal]

Die Junie-vakansie het beslis ’n nodige ruskans vir talle oorwerkte Dee–Effers gebied. My bedrywige vakansie het ’n twee en ’n half week fyn beplande roadtrip vanaf die Kaap tot KwaZulu-Natal en terug behels. Na ure se sit in die kar en oorslaap by verskeie vriende en onbekendes, het ons vir die hoogtepunt van dié vakansie vir vier dae in Amanzimtoti, net suid van Durban, gebly.

Ek het in Durban die KwaZulu-Natal Sharks Board Maritime Centre of Excellence in South Africa (KZNSB) saam met my ma gaan besoek. Ons albei het die komiese aanbieder van die haai-disseksie geniet en beslis iets nuuts geleer. Byvoorbeeld, haaie gaan deur meer as 30 000 tande in hul leeftyd! ’n Haai se hart het slegs twee kamers en hul lewer beslaan omtrent 25% van hul liggaamsgewig.

Die KZNSB beskerm baaiers teen haai-aanvalle deur middel van haainette en drumlines, doen navorsing oor haaie wat in die veiligheidsnette vasgevang is en bied programme aan om die publiek van haaie se rol sowel as baaierveiligheid in te lig. Besoek gerus hul insiggewende webtuiste: https://shark.co.za/ 

Die Sharks Board speel boonop ’n belangrike rol gedurende die sardienloop. Hulle is verantwoordelik vir die tydelike verwydering van die haainette gedurende die sardienloop, en baaiers swem dus dan op eie risiko.

Wat is die sardienloop?

Die sardienloop is vir die eerste keer in Augustus 1953 in die koerant, Die Natal Mercury genoem.

Die sardienloop is basies ’n natuurlike verskynsel waar groot skole sardiens KwaZulu-Natal se water gedurende die wintermaande binneswem. Hierdie jaarlikse beweging van sardiens, en die roofdiere kort op hul hakke (of vinne), vind plaas vanaf die Oos-Kaapse kuslyn tot die suidkus van Natal. 

Die rede agter die sardienloop is steeds onduidelik, aangesien die migrasie nie eintlik enige voordele vir die sardiens bied nie. Hulle beweeg met die koue en nutriënt-ryke strome noord en die skole word tussen die oostelike kuslyn van Suid-Afrika en die warm water van die suidwaarts vloeiende Agulhas-stroom vasgevang. 

Die skitterende massa van miljoene sardiens in mega-shoals raak gewoonlik meer as 7 kilometer lank, 1,5 kilometer wyd en tot 30 meter diep. Hierdie seekosbuffet is beslis ’n uitsonderlike skouspel en bied ’n feesmaal vir groot en klein, van bo en onder. Die vissermanne gepaard met haaie, walvisse, dolfyne en seevoëls neem almal deel.

Die dolfyne neem gewoonlik die leiding met ’n slim jagtaktiek waar hulle die sardiens in kompakte bait balls forseer en die visse na die oppervak van die water druk, om hulle so makliker te vang.

Sien gerus BBC Earth se video van die sardienloop: https://www.youtube.com/watch?v=6zOarcL1BSc 

Die sardiens sal soms op die strand beland as gevolg van die wind en strome, hulle groot getalle en die tekort aan suurstof in die water. Daar is dan altyd gretiges, van alle ouderdomme, wat met nette, mandjies, en selfs hul rompe water toe jaag om hulle deel van dié feesmaal te kry. 

Oorbevissing en aardverwarming het ongelukkig ’n negatiewe effek op die sardienloop. Die sardienloop vind geleidelik later in die jaar plaas met selfs ’n paar non-run jare die afgelope dekades. Dit beïnvloed die hele ekosisteem, waar talle spesies (sommiges ook bedreigdes) se voortbestaan afhang van ’n suksesvolle sardienloop. 

Met hierdie jaar se sardienloop sopas onder ons voete weggespoel, is daar altyd die geleentheid om die sardienloop van 2025 aan te gryp.

Reël jou wintervakansie sommer nou al en trek die hele gesin saam tot by Durban sodat julle ook aan die Natalkus se tafel kan sit en jul deel van die feesmaal verorber. Onthou, die een se dood is die ander se brood. 

Nienke de Vaal

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag ‘n diep gesprek voer oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.